Deur Garnett Wicomb
DIE brand wat ’n herwinningsaanleg op Oudtshoorn Woensdagmiddag in puin gelê en skade van sowat R2 miljoen aangerig het, kon moontlik deur ’n kortsluiting veroorsaak gewees het.
“Ons weet nie wat gebeur het nie. Ek is omstreeks 17:30 huis toe en die brand het tussen 17:45 en 18:00 uitgebreek,” sê mnr Nic van Beeck, eienaar van Retain, Recycle, Re-use CC in Oostelike Weg, in die Oudtshoorn industriële gebied.
Volgens Van Beeck sal hy teen van die einde van die maand meer duidelikheid hê oor of hy met die besigheid sal kan voortgaan.
“Alles sal afhang van die versekering.”
Die slaapkwartiere vir werknemers van die firma, ’n skuur, ’n baalmasjien van R300 000 en ’n groot hoeveelheid voorraad het in die slag gebly.
Van Beeck sê werknemers beweer dat die brand begin het toe die baalmasjien aan die brand geslaan het.
“Die masjien was heeldag in werking en die erge hitte kon wel ’n uitwerking gehad het,” sê Van Beeck.
“ Ons sal egter moet wag om te hoor van Mondi, vervaardigers van die masjien. Intussen doen ons aankope van die publiek soos gewoonlik.”
Personeel van die onderneming was gister saam met Van Beeck steeds besig met opruiming terwyl Eskom besig was om uitgebrande telefoonkabels te vervang.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die polisie, word geen gemene spel vermoed nie en is daar dus geen ondersoeke nie.
“Niemand is beseer nie en die brand het vermoedelik versprei nadat een van die voertuie op die perseel aan die brand geraak het,” sê Visser.