Rekords spat by meestersatletiek

Meestersatlete van Oudtshoorn het tydens verlede Saterdag se suksesvolle SWD Meestersatletiekkampioenskap altesaam sewe nuwe SWD rekords in die slag laat bly terwyl twee SA rekords ook gesneuwel het.

Oudtshoorn se meestersatlete met die medaljes wat hulle Saterdag tydens die SWD Meesters  Atletiekkampioenskap op Oudtshoorn verower het. Voor sit Johan Coetzer, Jolette van der Bergh,  Jacoleen Coetzee en Salman Booi.  Agter staan Willie Freeks, Lampies Lamprecht, Marius de October,  Thozi  Morolo en Ingo Hildebrand. Afwesig Frans Kalp en Andries Marais.

Oudtshoorn se meestersatlete met die medaljes wat hulle Saterdag tydens die SWD Meesters Atletiekkampioenskap op Oudtshoorn verower het. Voor sit Johan Coetzer, Jolette van der Bergh, Jacoleen Coetzee en Salman Booi. Agter staan Willie Freeks, Lampies Lamprecht, Marius de October, Thozi Morolo en Ingo Hildebrand. Afwesig Frans Kalp en Andries Marais.

Die byeenkoms het alle verwagtinge oortref met 69 atlete wat die Karooson trotseer het.

Salman Booi (35-39) het nuwe SWD- rekords opgestel in die 800 m (2.04.90), 1 500 m (4.13.52) en 5 000 m (16.39.80), Lampies Lamprecht (60-64) in die 800 m (2.57) en 1 500 m (5.58), Johan Coetzer (50-54) in die verspring (4,94 m) en driesprong (9,81m).

Gideon Geldenhuys (30-34) van die Vrystaat het ’n nuwe SA rekord in die diskusgooi en Marlette Watson (30-34) van George ’n nuwe SA rekord in die hamergooi opgestel. Albei het prysgeld van R500 in die sak gesteek.

Die voorsitter van SWD Meesters­atletiek, me Annette Steenkamp, het Saterdagaand tydens ’n dinee vir atlete in die African Sky Hotel gesê daar word hard baklei om die meestersatletiek behoorlik aan die gang te kry.

“Daar is baie politiek, nie rassepolitiek nie, maar politiek omdat mense nie wil saamwerk nie. Ons wil meestersatletiek uitbou en glo ons sal dit regkry,” het sy gesê.

Mnr Nico Ungerer van Een Stop Ford Auto wat die byeenkoms geborg het, het die atlete geloof vir hul deursettingsvermoë en entoesiasme.

Het egter sy kommer uitgespreek oor die feit dat meestersatletiek nog steeds aan die agterspeen moet suig.

Volgens hom word die sportsoort veral deur die nasionale media geïgnoreer.

Die Oudtshoorn-atlete wat Saterdag medaljes verower het, is Lampies Lamprecht (goud in die 5 000 m, 1 500 m en 800 m), Johan Coetzer (goud in verspring en driesprong en silwer in hoogspring), Jacoleen Coetzee (goud in diskus, gewigstoot en massabal), Willie Freeks (goud in 800 m, 1 500 m en 5 000 m), Jolette van der Bergh (goud in 400 m, silwer in 100 m en brons in die 200 m), Marius de October (goud in 1 500 m en silwer in 800 m), Ingo Hildebrand (goud in die gewigstoot, spiesgooi en gewigstoot, silwer in die diskus en hamergooi), Thozi Morolo (goud in 100 m en 200 m), Salman Booi (goud in 5 000 m, 1 500 m en 800 m en silwer in die 400 m), Frans Kalp (goud in die 100 m en 200 m) en Andries Marais (goud in gewigstoot en diskus).