info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089

Pietersen terug as munisipale bestuurder
ANC neem raad oor

Deur Liesel le Roux

‘N NUWE burgemeester, ‘n nuwe onder-burgemeester, ‘n nuwe speaker, en ‘n nuwe munisipale bestuurder.

Dit was sedert Dinsdag vir die Groter Oudtshoorn op die spyskaart nadat die ANC met die hulp van drie OD-raadslede beheer oor die raad oorgeneem het toe ‘n mosie van wantroue in die DA-burgemeester, me Diane de Jager, en die DA-speaker, mnr Pierre Nel, aanvaar is.

Die Groter Oudtshoorn se nuwe leiers wat Dinsdag verkies is. Van links is mnre Charlie Wagenaar (speaker), Gordon April (burgemeester) en Carmichael Ngalo (onder-burgemeester).

Die drie OD-raadslede, mnre Gordon April, Jurie Harmse en Shepston Billy, sal waarskynlik op 10 Augustus tydens ‘n tugverhoor op George uit die OD geskors word omdat hulle die samewerkingsooreenkoms tussen die OD en DA in die Wes-Kaap geïgnoreer het deur die ANC te steun. Indien dit gebeur, sal tussenverkiesings voorlopig op 23 September plaasvind in die wyke van April en Harmse, wat wyksraadslede is, terwyl Billy, ‘n proporsionele raadslid, deur die OD vervang sal word.

Die Groter Oudtshoorn-raad is voorheen deur ‘n koalisie van die DA en OD regeer.

April, voorheen onderburgemeester, is Dinsdag met die burgemeesterspos beloon toe hy eenparig tot burgemeester verkies is.

Die DA- en ander OD-lede het die raad verlaat voordat die stemming vir die mosies kon plaasvind.

Die nuwe onderburgemeester is mnr Carmichael Ngalo en die nuwe speaker mnr Charlie Wagenaar. Dié twee ANC-raadslede is ook albei eenparig verkies.

Uitroepe soos “Viva Gordon April!”, Viva comrade Gordon!” en “Nou wag ons vir 2011!” het ná die verkiesing van die drie raadslede deur die raadsaal weerklink.

Mnr Noël Pietersen wat gister deur die ANC-raad heraangestel is as munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn.

Mnr Noël Pietersen, wat in Februarie verlede jaar met die stemme van die ANC- en DA-raads­lede as munisipale bestuurder ontslaan is, is voorts gister tydens ‘n geslote spesiale raadsvergadering heraangestel as munisipale bestuurder. Hy sal op 10 Augustus die pos opneem en gaan na verneem word die oggend met ‘n funksie in die Banketsaal verwelkom word.

Die DA en oorblywende OD-lede het die raadsaal verlaat voordat gestem is.

Pietersen is verlede jaar ontslaan nadat hy in ‘n tugverhoor skuldig bevind is op twee klagtes, waarvan een die betaling van die persoonlike regskoste uit munisipale fondse. Pietersen het deurgaans volgehou dat hy die steun van die raad gehad het in wat hy gedoen het.

Luidens ‘n persverklaring gister deur April is Pietersen heraangestel kragtens ‘n aanbeveling van ‘n ad hoc-komitee wat Dinsdag aangestel is, en volg die aanstelling op ‘n ooreenkoms tussen Pietersen en die raad oor Pietersen se arbitrasieverhoor wat van 3 tot 5 Augustus sou plaasgevind het.

9 Responses to “Pietersen terug as munisipale bestuurder
ANC neem raad oor”

  1. Kevin Willaims says:

    “Kyk uit die verte”. Ek kan my nou net verstom oor al die gemorsery wat in my geboortedorp besig is om te gebeur. Wie word uiteindelik bevoordeel uit al die politiekery, dit is my vraag. Is dit die publiek, die belastingbetaler, of is dit nou maar weer soos altyd die politieke manupileerders wat soos wafferse staatsmanne en vroue doen wat hulle wil. Kom ons gaan gerus terug na voor ons ons “vryheid gekry het, want die vorige gepeupel was ook glad nie beter nie. Ek hoop net van harte dat die hele spul, regs en links (wat dit ookal beteken) sal nederig raak onder die kragtige hand van die Here. Eers dan sal hy Oudtshoorn kan gesond maak van armoede, werkloosheid, rassediskriminasie en al die dinge wat ons dorp so agterhou. Dit het tyd geword dat almal teruggaan na ons land se volkslied “Nkosi sikeleli Africa” en die laaste vers wat lui “For our land South Africa”. Mag die vrede van die Here oor julle almal kom en julle seën.

  2. Jason Porrill says:

    I recently had the privilege of returning back to Oudtshoorn, my hometown, for a week, and to my horror I was shocked to see the state of things (roads, infrastructure, etc…), and then to hear the sad news that the local municipality had undergone ANOTHER coup sent shivers down my spine.

    How are the people of Oudtshoorn going to prosper if policy changes so regularly?

    Mense kry baie swaar op Oudtshoorn, in plaas daarvan om te moan, hou hande vas en maak dinge beter!

    Democracy is one thing, but floor-crossing and looking after your own interests, instead of those of others is not the way forward.

    We can only hope things improve.

  3. enslin moos says:

    Gordon het homself deur die voet geskiet. Hy moet weet hy het hom nie self daar bo gekry nie. Hy moet ook weet dat die gemeenskaap wat hom daar bo gekry het, sal hom weer terug kry waar hy was.

  4. Jan Jacobs says:

    Boeta Barnard se vel is dun of so nie, het hy tone waar ek trap. Ek trap party keer wel op tone, maar vermy dit eerder. As my gemoedelike uitdrukkings jou ontstel, laat dit maar verbygaan, ou maat.

    Dit klink my ek en jy is dieselfde jaar se kallers. So in die ou Unie van Suid-Afrika gebore… Gee dit vir ons toegang tot Britse paspoorte?

    Ek “boeta” maar altoos alger. Van my vriende tot my tuinwerker. Kies maar waar jy tuishoort. Terloops: Jy mag my maar gerus boeta noem. Ek sal my nie wip as jy dit doen nie!

    Jy spog heerlik met jou uitlandigheid? Ek het swaers in Sierra Leone, Burkino Faso, Mali en die Kongo. Ek was nog nie so bevoorreg om so ‘n joppie los te slaan nie, maar as hy kom, sal ek spring!

    En oor jou opvoeding: Hou dit so… Die blink kant bo!

    Vir onse Schalk le Roux: Jou pennevrug en bydrae is puik en ‘n voltreffer. Die antwoord is tot ‘n mate daarin opgesluit dat ons as burgerlike gemeenskap ons self laat geld.

    Politieke partye is deel van die groter samelewing, maar is ongelukkig nie gerat of gesofistikeerd genoeg om dinge behoorlik te kan vasvat nie. Daarom moet alle vlakke, soos die geloofsgemeenskap, diensorganisasies en sakelui, betrokke raak en seker maak hulle stemme word gehoor. Kragtens wetgewing moet hulle gehoor word en moet die agbare verkoses luister… Maar gebeur dit?

    Jou wyksraadslid moet vier keer ‘n jaar ‘n openbare terugvoervergadering hou (kragtens munisipale wetgewing), maar talle gaan agter geslote deure na hul eie partyvriende en daar word hulle net bedank of goedgepraat. Of, doen dit eenvoudig net nooit nie.

    Politici is baie sensitief vir die openbare mening. Ongelukkig is van die belastingbetalersverenigings tot sakekamers so verpolitiseer dat hulle tot mak skoothondjies en toonlekkers gereduseer is.

    Dit is nou tyd vir manne van durf en daad. Manne wat onverskrokke is, wat opstaan en hulself laat hoor. Die tyd was nog nooit beter nie omdat daar ‘n munisipale verkiesing om die draai is… Dus: Hef aan en laat die sweep die praatwerk doen.

    Ons kan en mag nie toelaat dat Oudtshoorn weer die grap van die hele Wes-Kaap word nie. As enige raadslid nie sy samewerking gee nie, moet hy waai of so nie moet hy uitgeskop word. Sy party moet dan in die komende verkiesing gestraf word.

    Maar, werk op ‘n vriendskaplike ondersteuningsvlak. Stoei onder die kombers. Maar, bly weg van gemeenplaaslike aksies wat na die glybaan van verdere verval lei.

  5. Andre Barnard says:

    Jan Jacobs, jy klink soos ‘n prokureur of ‘n dominee of, dalk beter, soos ‘n boeta.
    Sit maar op jou stoep en kyk hoe die mooier dinge agterbly.
    Deel van die bevolking is die belastingbetaler.
    Vir jou informasie: ek werk in Uganda en my lewe is meer draaglik hier in “donker” Afrika as wat dit in my eie land is. So sies, boeta, dit gaan nie oor kleur nie.
    As jy tevrede is met die gemors wat in Oudtshoorn aan die gang is , is dit OK. Vir jou informasie, my erfbelasting vir 2010/2011 is reeds vooruit betaal.
    My voorletters en van is AC Barnard – so gaan kyk, dit is so.

    Groete aan jou, Boeta. Lyk my jy ly aan ‘n grootheidswaan, dis hoekom jy my Boeta noem. Ek is ‘n 50-jarige welopgevoede Oudthoorniet.

  6. Schalk says:

    Beste Jan

    Ek kan nie meer met jou saamstem dat ons almal, en ek bedoel almal, ‘n bydrae moet lewer (of minstens moet probeer lewer) om ‘n sukses van ons dorp en ons land te maak tot voordeel van al sy inwoners (en ek bedoel al sy inwoners).

    Wat egter baie belangrik is, is dat almal toegelaat moet word om ‘n bydrae te lewer en nie deur negatiewe praatjies, van wie ookal, afgeskrik moet word om dit te doen nie.

    Basiese voorvereistes vir voorspoed en welvaart in die munisipaliteit is egter onder meer eerlikheid, respek vir medemense, deursigtigheid en goeie dienslewering.

    Maar die manier wat sekere politici (en dit sluit geen party se politici uit nie) hier op Oudtshoorn tekere gaan, boesem nie vertroue by my en ek glo baie ander inwoners in nie. Voorts betaal inwoners immers belastinggeld wat vir die lewering van bepaalde dienste aangewend moet word. Jan, jy kan maar sê wat jy wil, ek voel beslis nie gemaklik met die manier waarop belastingbetalersgeld hier op Oudtshoorn gemors en wanaangewend word nie.

    Groete

    Schalk le Roux

  7. Jan Jacobs says:

    Jy kan maar probeer om geld te weerhou, maar dit gaan jou van agter-af inloop… En op die einde baie meer kos as wat jy graag sal wil betaal!

    Wie is die “sekere” deel van die bevolking waarna verwys word? Is dit ras (dus: wit) en verbeel ons ons weer dat net sekere mense verhewe genoeg is om gemeenskaplike belange op die hart te dra? Sies, Barnard! Sies!!

    As jy na die meerderheid belastingbetalers verwys, moet jy versigting wees vir dit wat jy vra: Die meerderheid lyk dalk anders as wat jy vermoed/dink… Dalk wys die meerderheid van die belastingbetalers van hierdie munisipaliteit inderdaad vir JOU waar Dawid die wortels gegrawe het!!

    Dit het tyd geword dat mense die demokratiese bestel van ons land aanvaar en leer om daarbinne te werk. Saamwerk is goedkoper (en minder pynigend) as oorlog maak.

    Om nou mense se onderbou te bevraagteken is snert. Al wat ons Grondwet (wat deur alle partye onderskryf is) vereis van ons verkose leiers is dat hulle burgers moet wees, 18 jaar oud, solvent en by hul positiewe. Dit geld ALMAL van ALLE partye… Ook die wat mense soos deur Barnard verkies.

    Ou broer, maak vrede met jou land IN Afrika. Kry jou kop reg en lewer ‘n opbouende bydrae. Jou eindtyd-gekerm maak my moeg… Dit help niemand nie.

    As jy klaar alles tot niet laat gaan het, wie gaan dit weer opbou en teen watter prys? Sal jy instaan vir daardie baie duur uitgawes om alles van voor af te herbou?? Dink mooi voor jy twak praat, boeta!! Of wil jy ook inpak vir Perth om daar belasting te gaan betaal, terwyl (weens jou onnadenkende uitsprake/aanmoediging) Oudtshoorn uitbrand?

  8. Dit is nou lekker op ons dorp. Dominee is terug. Hulle gaan nou braai en vergeet van ons. Maar as daar iets snaaks gebeur, vergeet hulle nie van ons nie. Dan kom hulle na ons mense om te kla hulle word sleg behandeling daar by my munisipaliteit. Roep ons as daar lekker dinge gebeur. Moenie nou van ons vergeet nie. Kom nou, laat ons almal braaivleis eet.

  9. Andre Barnard says:

    Ek dink dit is sommer snert die dat politici kan doen wat hulle wil. Het die kieser/ belastingbetaler nie meer ‘n keuse nie. Die heraanstel van Pietersen is om vir ‘n sekere deel van Oudtshoorn se bevolking ‘n middelvinger te wys. Ek dink dit is hoogtyd dat die meerderheid belastingbetalers van Oudtshoorn vir die Munisipaliteit wys waar Dawid die wortels begrawe het.

    Ons kan dit slegs doen deur ons belasting terug te hou. Daar is nie plek in Oudtshoorn se tronk om ons almal toe te sluit nie. Ons moet die geld gebruik om ‘n burgerlike regsaksie te begin teen hierdie mense. Dit is snert en maak my geweldig onvergenoegd. Ek wonder watter kwalifikasies en munisipale bestuurservaring het die nuut aangestelde burgemeester en sy meelopers.

Lewer Kommentaar

What is 8 + 15 ?
Please leave these two fields as-is:
BELANGRIK! Om te kommentaar, moet jy die sommetjie voltooi.   IMPORTANT! To be able to proceed, you need to solve the following simple maths problem.
Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX