Deur Liesel le Roux
‘n Dringende hofbevel om die aanstelling van mnr Noël Pietersen as munisipale bestuurder en die uitbetaling van R1,5 miljoen aan hom as skikkingspakket te stuit, is vanoggend (Donderdag) deur die Kaapse Hooggeregshof toegestaan.
Die aansoek is deur die voormalige speaker van Oudtshoorn, mnr Pierre Nel, gebring. Die respondente in die saak is die Groter Oudtshoorn munisipaliteit as eerste respondent en Pietersen as tweede respondent. ‘n Kennisgewing van die aansoek is Woensdagmiddag op mnr Keith Jordaan, finansiële bestuurder van die Groter Oudtshoorn munisipaliteit as verteenwoordiger van die munisipaliteit, en Pietersen beteken.
Die aansoek vra dat die munisipaliteit belet word om die volgende raadsbesluite van 4 Augustus uit te voer:
- Dat Pietersen heraangestel word as munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn munisipaliteit;
- Dat hy terugwerkend betaal word vanaf die datum van sy skorsing in Februarie 2009 tot die datum van sy heraanstelling op 10 April 2010;
- Dat een jaar se verlofgeld aan hom uitbetaal word;
- Dat sy verlof wat tydens sy skorsing opgehoop het, aan hom uitbetaal word.
Daar word ook in die aansoek gevra dat die respondente die regskoste van die aansoek moet betaal.
Die munisipaliteit se regspan het na verneem word onderneem dat geen geld aan Pietersen betaal sal word voordat die saak op 1 September voorkom nie.
Die DA- en OD-raadslede van Oudtshoorn het verlede week die Oudtshoornsakeman en prokureur, mnr Nic Barrow, opdrag gegee om vir die hofbevel aansoek te doen.
Barrow het sedert einde verlede week met ‘n senior regspan in Kaapstad oor die aangeleentheid gekonsulteer. Die aansoek is Donderdag gebring deur adv Jan Heunis SC bygestaan deur adv Gary Oliver.
Pietersen is die dag nadat die ANC twee weke gelede beheer oor die plaaslike raad oorgeneem het, heraangestel as munisipale bestuurder.
Hy is in Februarie verlede jaar deur die raad geskors nadat hy tydens ‘n tugverhoor skuldig bevind is op twee aanklagte, waaronder die gebruik van munisipale fondse vir die betaling van persoonlike regskoste van meer as R17 000. Die ANC het in 2009 sy skorsing gesteun.
Nel, wat sedert verlede week ook in Kaapstad was om die aansoek te bring, het Woensdagaand gesê dat hy vroeër die dag dreigemente ontvang het en ‘n sekuriteitsfirma moes aanstel om homself en sy ouers te beskerm.
Barrow het gister gesê die mense van Oudtshoorn sal nie seerowery duld nie.
“Senior amptenare en raadslede wat die besluite geneem het en daarby betrokke was, is reeds verlede week per sms deur my ingelig dat hulle in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou sal word vir regskoste,” het hy bygevoeg.
• Intussen is besluitneming deur die Oudtshoornraad tans verlam omdat geeneen van die politieke groeperinge in die raad oor genoeg stemme beskik om ‘n kworum vol te maak nie.
Die twee groeperinge is die ANC (agt lede) en die NPP (twee lede) aan die een kant, en die DA (sewe lede) en die OD (drie lede) aan die ander kant.
Mnr Carmichael Ngalo van die ANC, wat op 4 Augustus tot onderburgemeester van die Groter Oudtshoorn verkies is, neem tans as burgemeester van die dorp waar.
Die kommunikasiebeampte van die Groter Oudtshoorn munisipaliteit, mnr Ntobeko Mangqwengqwe, het bevestig dat die pos van burgemeester huidiglik vakant is nadat mnr Gordon April as lid van die OD bedank het en daarom sy pos as raadslid kwyt is.




Is dit nie tyd dat diegene wat hul rates en taxes betaal, saamstaan en besluit om dit nie te betaal todat ons ordentlike munisipale beheer het wat ons geld op ons dorp bestee in plaas van op hul gemors nie…
Hoekom is daar ‘n private kontrakteur wat die strate vee terwyl ons munisipaliteit sy eie straatveers het? Ek dink ons kort ‘n boekhouer op die dorp sodat ons kan weet waarheen ons geld gaan.
Terloops: het die Polisie ‘n nuwe telefoonnommer gekry, want hulle antwoord nie saans meer 10111 nie…
Ek stem saam. As daar nie nou ‘n plan gemaak gaan word nie, is Oudtshoorn regtigwaar binnekort die grootste spookdorp.
Dit lyk my die DA het nog ‘n keer ‘n bloedneus gekry omdat hy munisipaliteite onder sy beheer swak bestuur. ‘n DA-bestuurslid van die Stad Kaapstad erken nou dat Zille se raad onder haar bestuur (en ondanks haar verdediging van die besluit) die wet oortree het deur oop toilette vir mense in die townships te bou!!! Kyk na hierdie aanhaling uit vandag se Cape Times:
Mayoral committee member for social development Grant Pascoe says: “It has come to my attention that the city’s decision to build toilets without proper enclosures was unlawful.”
He quoted Section 9, of the Water Services Act, which states that “the minimum standard for basic sanitation services is a toilet which is safe, reliable, environmentally sound, easy to keep clean, provides privacy and protection against the weather”.
Jis-ja! Welkom by onse eie Animal Farm Oudtshoorn-styl. (Is mos maar eintlik ‘n agter-die-klip plaas vol gevleueldes?)
Die een hol oorwinning na die ander is besig om die dorp onder te ploeg. Omdat politici nie die moed en geloofwaardigheid het om onderlinge skikkings te bereik nie, moet die howe nou hul gemors uitsorteer.
Goeie geld word aan hofgevegte en prokureurs bestee… Hulle maak die geld wat ander werk moes doen! En, steeds is daar nie ‘n volstrekte beheer nie. Die ‘leiertjies’ voel vere vir ons gewone en arm mense!
Dus: Daar moet van voor af geknoei en albasters (poste met yslike vergoedingspakkette) uitgeruil word deur dieselfde gewone verdagtes en karikature wat sover nog geen bevredigende oplossing kon beding nie.
Dit alles net omdat ‘n klompie bleekwit siele verknog aan hul verskansde posisies vasklou en nie werklik uitreik om God se son oor almal te laat skyn nie. Die elite sal net rustig kan slaap en bly as die onderklas beter versorg word.
Moenie mislei word deur die “ja-baas” instemming deur sekere groepe nie. Hulle kan baie maklik omswaai en die hand aanval wat hulle voed. Onthou: Niks byt seerder as jou eie honde nie!!
Laat die waarskuwingsklok lui… Ons is boordenstoe vol vir ‘n handvol mense wat hulself as heersersklas beskou. Dit het tyd geword dat nuwe leiers in Oudtshoorn opgerig word omdat die oues net na hul eie belang (en beursies) omsien.
Nuwe bloed en ‘n nuwe benadering is al wat vernuwing sal bring – en ‘n uitweg uit die gekke-sirkels waarin sekere mense vasdgedraai het.
Party is so in ‘n groef vasgeval dat dit eintlik ‘n graf is. Gooi daai gate (met hulle daarin) goed toe en vergeet sulke ‘leiertjies’ sodat ons vorentoe kan begin dink en beweeg.
Moenie weghol nie, pak die bul by die horings. Dank af, stem uit en gooi weg… Slyp die messe, slag die heilige koeie en begrawe die ideologiese fossiele of zombies. Laat die dwase dwisse se hare (vere) en koppe waai!!
Al hierdie onsinnige kinderagtige politiekery is verskriklik nadelig vir Oudtshoorn en sy inwoners. Wanneer gaan dit ophou.
Oudtshoorn se ekonomie is klaar in ‘n afwaartse kurwe. Oor 10 jaar is dit ‘n spookdorp.
Daar is soveel venyn en selfsug. Dit maak ‘n mens naar.
Hoe is dit moontlik dat mense wat in ampte aangestel word nie gebind is tot dienslewering aan Oudthoorn se mense nie. Hulle is van die mense vir die mense.
Ek dink die hele Munisipaliteit kan ontbind word. Dit sal tot voordeel van die dorp wees. Ek is bereid om saam met my mede-straatbewoners ons straat en alles wat daarmee gepaard gaan in stand te hou met onafhanklike kontrakteurs.
Oudtshoorn Munisipaliteit is so besig met hul eie agendas dat hulle besig is om perspektief te verloor.
GEE DIE BESTUUR VIR DIE SEEROWERS. DAN KYK ONS WAAR IS ONS OOR ‘N JAAR VAN NOU AF. DALK BETER – DALK SLEGTER. Weet nie.
Ons is klaar op ‘n skip sonder behoorlike bemanning. Laat die Titanic na kinderspeletjies lyk. Of is dit ‘n moderne Animal Farm. Everybody are Pigs. Some Pigs are more piglier than other Pigs. Of dalk meer volstruis as ander volstruise.