SATERDAG se wedstryd tussen die eerste rugbyspanne van Langenhoven Gimnasium en die Hoërskool Punt het nuwe betekenis aan die woord naelbytstryd gegee.
Die Gimmies het in die laaste tien minute van die wedstryd twee drieë gedruk om die wedstryd met 27-23 te wen. Die eindfluitjie het geblaas nadat die laaste drie verdoel is.

Blydskap is die interhoër-beker! Die ekstatiese eerste rugbyspan van Langenhoven Gimnasium Saterdag nadat hulle die span van die Hoërskool Punt in Mosselbaai op hul eie werf geklop het en die jaarlikse interhoërkragmeting tussen die twee skole 27-23 gewen het. By die spelers staan hul skoolhoof en afrigter, mnr Chris Swanepoel (links), en mnr Piet Otto, wat ook met die afrigting behulpsaam is.
Die Gimmies kon dit vir hulself en vir hul ondersteuners baie makliker gemaak het as hulle nie so baie punte deur hul vingers laat glip het nie deur onder meer swak hanteerwerk en ‘n gebrek aan konsentrasie.
Punt het albei hul drieë gedruk nadat hulle los balle wat nie deur die Gimmies beheer is nie, deurgeskop en gaan druk het.
Die Gimmies se voorspelers verdien egter krediet vir die karakter wat hulle in die laaste sowat 15 minute van die wedstryd getoon het.
• Die eerste punte van die wed-stryd is deur Punt met ‘n strafdoel aangeteken, gevolg deur ‘n strafdoel deur Gimmies se losskakel, Johannes Potgieter, (3-3).
Punt het daarna die eerste drie gedruk en verdoel. Die Gimmies het die telling net voor halftyd gelyk, 10-10, gemaak met ‘n drie deur sy nr 5-slot Ryno Lategan en ‘n suksesvolle doelskop deur Potgieter.
Punt het in die tweede helfte weer eerste gedruk en verdoel, en ook ‘n strafdoel aangeteken vir ‘n voorsprong van 20-10.
Daarna het Leclue Barnard met ‘n onverdoelde drie die telling 20-15 gemaak.
Die Gimmies het kwaai begin naelskou toe Punt met nog ‘n strafskop geslaag het vir 23-15 met nog minder as tien minute speeltyd oor.
Die Gimmies se voorspelers het toe egter met ‘n terugvegpoging soos min vorendag gekom wat gelei het tot ‘n drie deur die Gimmie-flank Louw Swanepoel.
Met die telling op 20-23 het die Gimmies, wat in daardie stadium aanhoudend aangeval het, ‘n strafskop reg voor Punt se pale gekry. Met die wedstryd so te sê verby moes die Gimmies kies tussen ‘n waarskynlike gelykoptelling deur pale toe te skop of vir ‘n moontlike wen met ‘n drie.
Met ondersteuners wat nog van die kantlyn raad gegee het, het die Gimmies ‘n kortskoppie gegee en die voorspelers het verbete aangeval om agtsteman PC Pelser naby die hoekvlag oor die doellyn te stuur.
Potgieter het met die doelskop geslaag om die eindtelling op 27-23 te staan te bring.




Die Gimmies is wenners!!! Vra maar die kenners.
Dis ‘n fees om ‘n Gimmie te wees!!!
Dis hy Os! Jy het gekook my laatie!