Deur Liesel le Roux
DIE hofbevel ingevolge waarvan ‘n skikkingspakket van R1,5miljoen nie aan die dorp se munisipale bestuurder, mnr Noël Pietersen, betaal mag word nie, is gister in die Kaapse Hooggeregshof tot 23 Februarie 2011 verleng. Pietersen is begin Augustus heraangestel as munisipale bestuurder nadat die ANC met die hulp van drie voormalige OD-raadslede beheer oor die raad oorgeneem het.
Die Oudtshoorn munisipaliteit se regsverteenwoordigers het nie gister die aansoek teengestaan nie.
‘n Aansoek deur die voormalige speaker van Oudtshoorn, mnr Pierre Nel, om ‘n dringende hofbevel om die aanstelling van Pietersen as munisipale bestuurder en die uitbetaling van die skikkingspakket te stuit, is twee weke gelede deur die Hooggeregshof toegestaan. Nel word bygestaan deur sakeman en prokureur Nic Barrow van Oudtshoorn en ‘n gedugte regspan van Kaapstad.
Nel se regspan het gister aangedui dat hulle verneem het dat Pietersen die bevel in sy persoonlike hoedanigheid gaan opponeer, maar dat geen kennisgewing van opponering formeel op hulle beteken is nie.



