Deur Liesel le Roux
DIE burgemeesterskomitee wat Dinsdagoggend op Oudtshoorn vergader en verskeie besluite geneem het, is onwettig, sê die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, mnr Anton Bredell.
Volgens Bredell bepaal artikel 60 (5) van die Munisipale Strukturewet dat ‘n burgemeesterskomitee ontbind wanneer die burgemeester sy kantoor ontruim.
‘n Brief wat bogenoemde uiteensit, is reeds op 12 Augustus deur Bredell aan die speaker van die Groter Oudtshoorn, mnr Charlie Wagenaar, en aan die kantoor van die die munisipale bestuurder, mnr Noël Pietersen, gestuur.
“Dit is nie wat ek of ‘n politieke party sê nie, maar wat die wet sê,” het hy bygevoeg.
Die onderburgemeester van die Groter Oudtshoorn, mnr Carmichael Ngalo, neem tans as burgemeester waar nadat mnr Gordon April as raadslid bedank het.
April was ‘n week lank burgemeester voordat hy uit die OD bedank en so sy setel as raadslid verloor het.
“Die Strukturewet verwys nêrens na ‘n onderburgemeester wat ‘n komitee het nie,” sê Bredell
Volgens Bredell is besluite wat die huidige “burgemeesterskomitee” neem van nul en gener waarde. Omdat die Groter Oudtshoorn tans nie ‘n burgemeesterskomitee het nie, kan geen raadslid ook aanspraak maak op die vergoeding van ‘n burgemeesterkomiteelid nie en sal alle sodanige geld wat aan raadslede betaal word, terugbetaal moet word, sê hy.
Die Oudtshoorn munisipaliteit stem egter nie met Bredell saam oor die interpretasie van wetgewing nie.
Die mediabeampte van die munisipaliteit, mnr Ntobeko Mangqwengqwe, het op navraag van Die Hoorn gesê ingevolge artikel 56 (3)(h)(6) van die wet oefen die onderburgemeester van ‘n munisipaliteit die magte van die uitvoerende burgemeester uit en voer die onderburgemeester die burgemeester se pligte uit indien die burgemeester afwesig of nie beskikbaar is nie of indien sy kantoor vakant is.
Ngalo het ook Dinsdagoggend by die aanvang van die vergadering gesê daar is mense met “politieke vrae” oor die wettigheid van die burgemeester en die komitee.
Hy het mense met vrae oor die aangeleentheid genooi om hom te kontak.
• Bredell het Dinsdag sy frustrasie met Ngalo en die speaker van Oudtshoorn, mnr Charlie Wagenaar, te kenne gegee omdat hulle verskeie navrae en versoeke om inligting aan hom te verskaf, bloot ignoreer.




Mr Bredell – you are not alone in being ignored – our town structure has collapsed and all and sundry at Council seem to be doing as little as possible while this crazy situation prevails – so much for serving the ratepayers!!!!