DIEGENE verantwoordelik vir die vergiftiging van troeteldiere speel met vuur, sê die voorsitter van die Oudtshoorn DBV, mnr Hennie Davel. “Dit is ‘n oortreding van die wet om diere te vergiftig en sou so iemand skuldig bevind word, kan dit selfs tot tronkstraf lei.”
Davel het gereageer op die dood van ‘n Siamese kat in Reserwestraat verlede Woensdagaand nadat die kat gif ingekry het.
Me Anél Berry, eienaar van Bella, die Siamees wat gevrek het, sê ‘n ander kat van haar het ‘n maand gelede by die dood omgedraai nadat dit ook gif ingekry het. Dié kat, Pokkels, is deur ‘n plaaslike veearts, me Reinette du Plooy, gered, maar ly steeds aan die nagevolge van die vergiftiging.
Verlede Woensdagaand was Bella egter reeds dood toe hulle by die huis gekom het.
“Ons huis en harte is leeg. Wat kan ‘n mens doen om jou onskuldige diere te beskerm?” wou Berry weet.
Intussen het ontstelde inwoners van Reserwestraat die week verwys na ‘n dreigbrief wat Desember in hul posbusse gegooi is en waarin ‘n inwoner, met die adres onderaan die brief, dreig om enige kat wat in haar erf kom, dood te skiet. Die brief, waarvan ‘n afskrif in Die Hoorn se besit is, lui: Enige kat wat van nou af in my erf kom, sal summier vrekgeskiet word. Ek het nou genoeg gehad van ander mense se katte wat my stoep kom vrot p*s en my African Grey kom teister!
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word die dood van die kat tans deur die Polisie ondersoek.
Voorvalle van die vergiftiging van troeteldiere het egter die laaste tyd ook elders op Oudtshoorn voorgekom.
Davel sê hy het verlede week ook verneem van twee katte by Klapperbosrant wat vergiftig is, en ‘n ander leser vertel van ‘n hond en kat in Scheepersstraat wat gif ingekry het. Die hondjie het gevrek. Volgens Davel is dit dikwels onskuldige diere wat vrek terwyl die diere wat mense pla, steeds op vrye voet is. “Vir die meeste mense is hul troeteldiere soos deel van die familie en veroorsaak so ‘n dier se dood ‘n groot leemte en hartseer in die eienaars se lewe.”
Davel het inwoners met probleme met rondloperdiere genooi om eerder ‘n vanghok by die DBV te kry, die diere te vang en hulle deur die DBV te laat skut.




Ons bly in Adderleystraat – ongelukkig agter iemand wat met voëls boer. My St Bernard is gif ingegee. Ons het nou in die 10 jaar wat ons hier bly 18 katte verloor, so ook alle bure wat wel katte aanhou/gehou het. Een kat is ook met ‘n windbuks in die kop geskiet, ander se kakebeen vergruis. Veeartskoste – R1500 – en moes toe in elk geval uitgesit word. Die “kerksaal” se kat, Sokkies – ‘n reggemaakte’ wyfiekat, is Woensdag, 29 September, ook in ‘n hok gevang en seker doodgeskop. (Die koster was maar te bly dat Sokkies die rotte- en duiwemisprobleem in toom gehou het.) Hier beter nou werk gemaak word. Ons is gatvol, om dit lig te stel. Die munisipaliteit vee hul agterent af aan klagtes. Ek sal ‘n dier NOOIT skade aandoen nie – maar ek voel ek kan die een wat die diere so doodmaak met my kaal hande verwurg.
Ek dink almal wat diere verloor het, moet bymekaar kom sodat ons iets aan die saak gedoen kan kry.
Dankie aan die DA regering wat die huise daar agter die polisievlakte in Bongolethu klaargemaak het voor Desember. Onse huiseloses en boarders sê dankie. Hulle gaan nou rustig in hul eie huise Braai ,Pootjies enna Kuier sonder om
gepla wees. Dankie, Daine.
Ons kat is geskiet met ‘n air gun en haar been is gebreek en moes geamputeer word. Klagte is ingedien, maar niks het daarvan gekom nie. Ek weet nie waarom ‘n mens die moeite doen om te kla nie, want niemand help om iets te doen omtrent mense wat diere seermaak nie. Kan mense dan nie net kom sê as hulle ‘n probleem het met jou kat nie, dan kan ‘n mens mos iets daaraan probeer doen. Veral as jou bure met voels teel.
Ja, ek het ook twee van my honde so verloor, ook in Reserwestraat, nadat hulle vergiftig is. Mag die persoon wat tot sulke dade in staat is vrede in sy hart vind. Ek treur nou nog oor my honde.