CHRIS CHAMELEON, Amanda Strydom en Sterling EQ!
Dit is die drie topmusiekproduksies wat in die volgende ses maande by Jamstreet enkele kilometer buite Oudtshoorn op die Rooiheuwelpad aangebied word.
Eerste aan die beurt is die gewilde Sterling EQ, wat al beskryf is as dié gewildste kwartet in Afrika. Hulle tree op Vrydag 8 Oktober in die Jamstreet Plaasteater op. Kaartjies is by Die Hoorn en Jamstreet te koop teen R90 vir volwassenes en R70 vir pensioenarisse en kinders.
Die EQ staan vir “Electric Quartet” en sedert die kwartet in 2007 op die been gebring is, kan die publiek nie genoeg van die vier mooi en talentvolle vroulike lede se optredes kry nie. Die lede is die fluitspeler Carina Bruwer, elektriese tjellis Ariella Caira en die twee elektriese violiste Renate Riedemann en Eriel Huang.
Hierna is twee swaargewigte in die Suid-Afrtikaanse musiekbedryf op pad om gehore in die Jamstreet Amfiteater onder die sterre te kom betower.
Dié besonderse amfiteater met ‘n uitsig oor die Swartberge is verlede jaar deur die eienaars van Jamstreet en die kunsgalery Moooi, mnre Danie du Plessis en Wim Rheeder, gebou en tydens die eerste Klein Karoo Klassique met ‘n optrede van die sopraan Zanne Stapelberg geopen. Sedertdien het Coenie de Villiers ook daar opgetree en is die toneelstuk Taraboemdery tydens die Absa KKNK daar aangebied.
Die Afrikaanse diva Amanda Strydom kan op Saterdag 23 Oktober in die amfiteater gehoor word. Met die volmaan wat dié aand oor die Klein Karoo gaan opkom, kan konsertgangers hulle nou reeds gereed maak vir ‘n besonderse aand. Kaartjies vir Amanda se vertoning is reeds by Computicket en Checkers te koop. En in Februarie volgende jaar wag nog ‘n ervaring wanneer die gewilde en formidabele Chris Chameleon in die Jamstreet Amfi gaan optree.



