Deur Liesel le Roux
KAARTJIES vir vanjaar se tweede Klein Karoo Klassique verkoop reeds fluks met die twee optredes van die Kaapse Filharmoniese Orkes as van die voorste verkopers.
Die Kaapse Filharmoniese Orkes tree op Saterdag 2 Oktober in die Burgersentrum op en weer op Sondag 3 Oktober in die Rooms-Katolieke Kerk in Baron van Reedestraat saam met die St George’s Singers van Kaapstad en die Klein Karoo Feeskoor wat spesiaal vir die fees saamgestel is.
Die ander topverkopers vir Klassique tans is die vertonings Two Pianists met die Sama- en Grammy-genomineerdes Nina Schuman en Louis Magalhães, die Dvořák Piano Quintet & Schumann Piano Quintet met ‘n versameling top Suid-Afrikaanse en oorsese kunstenaars en Winds in Chamber Music waartydens ‘n groep vooraanstaande Suid-Afrikaanse en oorsese kunstenaars ook saam gaan optree.
Volgens die uitvoerende hoof van die Absa KKNK, mnr Brett Pyper, is die aanvanklike verkope vir die eerste weke van die fees bykans dubbeld wat die verkope in die eerste weke vir verlede jaar se eerste fees was.
“Vanjaar se Klein Karoo Klassique bied genoeg vir enige fynproewer om uit die Kaap of Port Elizabeth vir die paar dae na Oudtshoorn te ry en hier vertonings te kom kyk wat nie elders te sien sal wees nie,” het Pyper Dinsdag gesê.
Die Klein Karoo Klassique, ‘n fees van klassieke musiek, kuns, streekkos en wyn, vind in die September-skoolvakansie van 29 September tot 3 Oktober op Oudtshoorn plaas.
Kaartjies vir die musiekvertonings en werksessies is by Computicket te koop.
• Die feesgids met die volledige program en inligting oor kaartjies is gratis te kry by die KKNK-kantoor en PostNet op Oudtshoorn.




Ek het kaartjies gekry vir KFO Gala konsert, Handel’s Messiah, Camarata konsert en Two Pianists. Dink dit gaan ‘n great Klassique-fees wees!