info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089
Facebook Besoek ons op facebook

Klag oor stank by Menseregtekommissie

Deur Liesel le Roux

‘N INWONER van Oudtshoorn wat reeds jare lank ‘n stryd voer teen onaangename reuke op Oudtshoorn het gister ‘n skriftelike klag daaroor by die Menseregtekommissie ingedien.

Mnr Reynhardt Brittnell het ook vandeesweek ‘n skrywe aan die burgerregte-organisasie Afriforum gerig waarin hy skryf oor sy frustrerende stryd die afgelope jare teen die stank op die dorp. Hy vra Afriforum om in te gryp. Brittnell skryf dat hy grootgeword het op Oudtshoorn, en geskok was toe hy in 2006 teruggekeer het na die dorp en die “onuithoudbare stank” moes ervaar waarmee mense moet saamleef.

Volgens Britnell was daar ‘n effense verbetering die laaste sewe maande, maar wil dit voorkom of dit van korte duur was. “Dié stank kom nou weer voor en is so erg dat ons ons huise se vensters moet toemaak om nie naar te word nie. Ons is dus gevangenes in ons eie huise.”

Brittnell het aanvanklik die plaaslike regering genader om ‘n oplossing, maar nadat hy ongelukkig was met die reaksie in 2009 ‘n skrywe aan die Wes-Kaapse premier, me Helen Zille, gerig. Dit het daartoe gelei dat die kantoor van mnr Anton Bredell, minister van plaaslike regering en omgewingsake, ‘n ondersoek op die dorp laat doen het waarna ‘n aantal instansies geïdentifiseer is wat vir die reuke verantwoordelik kan wees en gesprekvoering met hulle begin het. ‘n Luggehalte-moniteringstasie is ook einde Maart op die dorp opgerig.

Brittnell is nie die enigste inwoner wat jare lank al beswaar maak teen die stank op Oudtshoorn nie. Mnre Grenville Harty en Kosie Jansen het reeds in 2008 ‘n beswaarskrif met meer as 2000 handtekeninge daaroor aan die Oudtshoorn munisipaliteit oorhandig. Harty is veral bekommerd oor die luggehalte op die dorp en die moontlikheid dat inwoners skadelike stowwe inasem. Die bekende aktrise Vinette Ebrahim (Charmaine in 7de Laan) het tydens vanjaar se Absa KKNK ook haar afkeur aan die omstandighede waaronder mense op die dorp moet woon, te kenne gegee.

Die Hoorn het die afgelope weke verskeie sms’e van inwoners ontvang oor die stank wat die laaste weke weer erg oor groot dele van die dorp hang.

3 Responses to “Klag oor stank by Menseregtekommissie”

  1. Reynhardt Brittnell says:

    Dinsdag, 12 Febr. 2013 @ 17:53. Terug na ‘n dag weg en ek voel sommer tuis met die ondraaglike stank (Parkweg 184).Die proses is ongelukkig stadig, maar vorder darem. Kontak my gerus vir ‘n kopie van die kommentaar op die “NOTICE – PUBLIC PARTICIPATION PROCESS – KLEIN KAROO INTERNATIONAL TANNERY” verslag (OUD061/02 gedateer 1 Nov. 2012).
    Reynhardt

  2. Reynhardt Brittnell says:

    Voortaan sal die woord “stank” vervang word met “The smell of money”.

  3. Reynhardt Brittnell says:

    21h25 – 6 Januarie 2012. Ons braai saam met vriende (Parkweg 184, Oudtshoorn) word ontwrig deur die bekende stank! Oudtshoorn stink weer!!!!!!!! …. maar dit is darem gelukkig van korte duur.

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX