Deur Liesel le Roux
RESULTATE van ‘n lugmoniteringstasie op Oudtshoorn toon dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se reukdrempel vir swaelgas (swaelwaterstof) gemiddeld 23 keer per maand op Oudtshoorn oorskry word.
Swaelgas (H2S) is volgens die webblad Wikipedia ‘n kleurlose, giftige, vlambare gas met die kenmerkende slegte reuk van vrot eiers waarneembaar teen konsentrasies so laag as 0,00047 dele per miljoen. Dit kom dikwels uit die bakteriese afbraak van organiese materiaal.
Die lugmoniteringstasie is verlede jaar deur die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning by die Bongolethu Kliniek opgerig om swaelgas (H2S) en koolstofmonoksied (CO) in daardie gebied te moniteer.
Die WGO stel ‘n reukdrempellimiet van 7ug/m3 voor oor ‘n periode van 30 minute.
Volgens verslag wil dit voorkom of die reukdrumpel oorskry word wanneer nywerheidsaktiwiteite aan die gang is.
Mnr Aziel Gangerdine, woordvoerder van die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die afgelope week geantwoord op ‘n navraag van Die Hoorn oor vordering ten opsigte van ‘n ondersoek na die reukprobleem op die dorp. Sewe moontlike bronne van die onaangename reuke is reeds verlede jaar deur ‘n interdepartementele taakspan geïdentifiseer en sekere riglyne reeds aan nywerhede deurgegee.
Volgens Gangerdine vind ‘n vorderingsvergadering in Februarie plaas waartydens op verdere optrede besluit sal word.
Nywerhede is reeds verlede jaar versoek om ‘n wye verskeidenheid moniterings- en ander aksies self te doen en inligting aan die taakspan deur te gee. Dit sluit in ‘n gedetailleerde lys van produksieprosesse en die tye waarop sekere prosesse plaasvind sodat dit met reukmonitering vergelyk kan word asook verslae aan die Eden Distriksmunisipaliteit.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ‘n skrywe aan mnr Reynhardt Brittnell van Oudtshoorn gerig waarin hulle aandui dat hulle tans aandag gee aan ‘n klag oor die onaangename reuke op Oudtshoorn.
Brittnell het op 30 November ‘n klag by die kommissie ingedien.
Die kommissie dui in ‘n skrywe aan Brittnell aan dat hulle tans ondersoek instel of die reukeprobleem in die dorp ‘n skending is van regte wat in die land se Handves van Menseregte vervat is.
“Indien gevind word dat dit ‘n skending is van een van daardie regte sal dit aan ‘n regsbeampte oorhandig word wat terugvoer aan u sal gee,” lui die brief onder meer.
Brittnell wat reeds ‘n jarelange stryd teen onaangename reuke op die dorp voer, sê hy het ‘n klag by die Menseregtekommissie ingedien omdat hy nie terugvoer van regeringskant kry nie en die reukprobleem voortduur.
Hy het die kwessie in 2009 onder die aandag van die provinsiale regering gebring.
Inwoners van Oudtshoorn is gevangenes in hul eie huise, sê Brittnell. Hy het intussen ook die burgerregte-organisasie Afriforum versoek om in te gryp.





Lees gerus die Mediaverklaring van 12 April 2012 op http://www.afriforum.co.za
‘n Kopie van die verslag aan Afriforum is gratis beskikbaar. Bel my gerus vir ‘n kopie by 082 825 4021 of stuur ‘n e-pos aan info@karoosun.co.za
‘n Kopie van Afriforum se brief aan die Oudtshoorn Munisipaliteit is ook vanaf Donderdag beskikbaar. Kontak my en ek e-pos dit graag.
Maandag-aand, 16 April 2012 @ 20:45 – en die stank hang alweer oor Oudtshoorn… Ek wonder hoe die persone verantwoordelik vir dié stank dit aan hul vrouens en kinders verduidelik?
@Reynhardt – jammer ek leer hierdie nou eers. Ek sal jou kontak. Ek woon naby die Hoërskool Oudtshoorn, maar die reuk is basies die ergste as ‘n mens by die watertoring is, en die wind waai uit ‘n suidelike rigting. Ek is baie verbaas dat niemand die oorsprong van die reuk kan opspoor nie.
@Charles – ek dink nie dit is ‘n tabakreuk nie (sou dalk aangenaam gewees het!) Hierdie is ‘n vrotterige reuk iewers tussen verrotting en ‘n chemiese reuk. Moeilik om te verduidelik, maar beslis ‘n probleem as die wind in die middae uit die suide waai.
@ Johan van Noordwyk. Dit is ook hoekom dit gaan soos dit gaan in SA. Die norm is, let wel nie die uitsondering: Maak soos jy wil, erken niks, pleit “ek het nie geweet nie” en raak die “slagoffer” as jy nou regtig in die moeilikheid is…dié resep werk blykbaar altyd. En dan gaan huil ons by ons predikant omdat ons nou so verontreg en te na gekom is…maar natuurlik sal ons nie vir ons berader vertel wat agter die vroom gesiggie skuil nie. Groete R
@ Johan van Noordwyk. Nee, daar is geen petisie meer nie. ‘n Verslag is Des. 2011 aan Afriforum gegee en ‘n klagte is by die Menseregtekommissie ingedien. Kontak my gerus vir ‘n afskrif van dié verslag (dit is op CD (gratis). Ongelukkig te groot om te e-pos. ‘n Baie bekende “ondersoekende joernalis” stel moontlik ook belang in dié storie. Daar is natuurlik ook ander opsies… as protokol weer nie werk nie. My adres is Parkweg 184; tel. 082 825 4021. (Ontkenning is ‘n hoog aansteeklike siekte en is nie behandelbaar nie en natuurlik die gepaardgaande vrese en fobies…) Groete R
As u praat van tabakreuk dan kom dit van ou wynkelder aan onderent van Parkweg Suid, veral wanneer hulle roltabak bewerk.
Bobaas Mnr Brittnell. Die reuk is absoluut aaklig, en ek kan regtig nie verstaan hoe hulle nie kan opspoor wie die besoedeling veroorsaak nie. Is daar ‘n petisie wat ons kan teken?