Deur Garnett Wicomb
’N 81-jarige man van Oudtshoorn is in die Oudtshoorn streekhof skuldig bevind op klagtes van verkragting, poging tot verkragting en onsedelike aanranding.
Die man, wie se naam om die klaagster se onthalwe, van publikasie weerhou word, het die dade in 2002, 2004 en 2009 gepleeg. Die klaagster, wat nou 18 jaar oud is, was 9 jaar oud toe sy vir die eerste keer deur die beskuldigde betas is.
Sy het stil gebly omdat sy bang was, het sy getuig.
In 2004 het die beskuldige probeer om haar te verkrag en sy het weer vir niemand daarvan vertel nie omdat daar ’n goeie verhouding tussen hom en haar ouers was.
In 2009 het sy egter besluit om die sluier te lig toe sy ’n polisievriend daaroor ingelig het. Die staatsaanklaer, me Michelle Weyers, het in haar betoog om skuldigbevinding gesê die beskuldigde was baie ontwykend in sy getuienis.
“Hy kan sekere dinge onthou en andere kwansuis nie. Hy kon nie bevredigende antwoorde verskaf ten opsigte van foto’s wat as bewysstukke gedien het nie.”
Volgens haar het die klaer ’n goeie indruk in die hof gemaak.
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, mnr Christo van der Bergh, het betoog dat sy kliënt ’n bejaarde man is wie se geheue en gesondheid nie altyd na wense is nie.
“Sy getuienis was eenvoudig en daar kan met alle respek geen werklike kritiek daarteen wees nie,” het Van der Bergh gesê.
Volgens hom het die klaagster haar getuienis aangepas afhangende van die situasie waarin sy geplaas is. Sy en die beskuldigde het vir ’n lang tyd in dieselfde woning gebly en geeneen van die beweerde gevalle het in daardie tyd plaasgevind nie.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het in sy uitspraak gesê hy is oortuig dat die staat daarin geslaag het om die beskuldigde se skuld te bewys. Die saak is vir vonnisoplegging tot 13 April uitgestel.



