Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN se uitvoerende burgemeester, mnr Gordon April, is die afgelope week uit verskeie oorde fel gekritiseer. Die plaaslike DA het onder meer ook sy bedanking geëis.
Die Oudtshoorn Burgerlike Beweging (OBB) het dié week April se versuim om te reageer op ’n memorandum wat aan hom oorhandig is na ’n optog in November verlede jaar bestempel “as ’n minagting van die beweging se gematigde en ordelike pogings om versoening, geregtigheid en stabiliteit in die Groter Oudtshoorn te bewerkstellig”.
Mnr David Piedt, een van die betrokkenes by die OBB, het gewaarsku dat tot meer kragdadige optrede oorgegaan kan word. “Niemand moet ons erns om orde en versoening in die Groter Oudtshoorn te verseker onderskat nie.”
Die OBB beoog om op 19 Februarie amptelik tot stigting oor te gaan en lede te begin werf sodat hy ’n mandaat het as hy eise stel.
Dinsdag het die Oudtshoorn-DA tydens ’n mediakonferensie probleme op Oudtshoorn aan April toegeskryf en geëis dat hy sy “tasse moet pak en die dorp moet verlaat”.
April het intussen die afgelope week elke aand die Mighty Word Conference op die Bridgton Sportgronde bygewoon. Hy sê in ’n persverklaring wat verlede Donderdag uitgereik is, dat hy die geleentheid steun omdat dit ten doel het om te help met versoening binne die gemeenskap van die Groter Oudtshoorn.
Hy sê ook hy is van plan om die jaar op ’n “geestelike noot te begin met God as leiding” en vra dat inwoners sal saam bid en mekaar ondersteun.
“Die een ding wat moet gebeur om Oudtshoorn reg te kry is dat Gordon April?sy tasse moet pak en die dorp verlaat,” het DA-raadslid Chris MacPherson namens die plaaslike DA by ’n mediakonferensie gesê.
MacPherson het gesê hy weet die meeste ANC-raadslede steun hierdie standpunt ook, maar dat hulle nie in die Raad teen April kan draai nie omdat die ANC dan sy meerderheid sal verloor.
MacPherson het onder meer April se “arrogansie” teenoor die publiek gekritiseer omdat hy na protesoptogte nie sy beloftes van terugvoer aan inwoners nakom nie.
Volgens MacPherson weet hy ook van geen Salga-opleidingsessie vir raadslede wat April al bygewoon het nie.
“As die burgemeester die opleidingsessie verlede jaar bygewoon het oor hoe om teenoor die publiek op te tree, sou hy dalk geweet het hoe om die publiek te hanteer.”
Raadsheer Diane de Jager het gesê April woon ook niks by waar hy as wyksraadslid moet wees by nie. “Of hy kom net ’n minuut of twee en verskoon homself.”
Die raad se finansiële situasie het ook glad nie verander sedert die DA einde verlede jaar op die finansiële krisis op Oudtshoorn gewys het nie. “71% van skuldenaars se rekeninge is 90 dae agterstallig. Dit is ’n bedrag van R87 miljoen,” het MacPherson gesê.
Volgens die DA-raadslede sal inwoners van die dorp self betrokke moet raak en in groot getalle klagtes aan die provinsiale leierskap moet rig.
MacPehrson het egter gesê die DA het groot waardering vir die wyse waarop die nuwe munisipale bestuurder, mnr Thandekile Mnyimba, aandag skenk aan kwessies. Die DA is voorts baie positief oor die samewerking in die Raad tussen die DA en ANC.
MacPherson het ook verwys na die tameletjie rondom ’n skeidingspakket wat April as burgemeester aan mnr Walter Hendricks, die direkteur van gemeenskapsdienste, aangebied het. April verskyn eersdaags weer in die hof op ’n klag van diefstal nadat Hendricks die betrokke voorval bekend gemaak het. Hendricks is ’n staatsgetuie in die saak en April het opdrag by die landdros gekry om geen kontak met getuies te hê nie. Na verneem word, ondersoek die Polisie glo tans die moontlike verbreking van borgvoorwaardes.



