info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089

Een van 12 in wêreld

Deur Carina Fourie

DIE hoofmeisie van die Hoërskool Oudtshoorn, Anica Potgieter, het pas verneem dat sy een van 12 hoërskoolleerders vanoor die wêreld is, wat gekies is om op die Junior Adviserende Raad (JAB) van die IE?Universiteit van Spanje te dien.

Sy sal op 26 Maart na Madrid in Spanje vertrek waar sy van 27 tot 30 Maart verskeie lesings en werksessies sal bywoon. Volgens Anica sal die kollig tydens die drie dae hoofsaaklik op onderwys en die onderrig van universiteitstudente val.

Anica Potgieter

Na afloop van die beraad, moet elkeen van die 12 leerders ’n toespraak lewer waarin hulle terugvoer oor die beraad gee.

Lede dien vir ’n tydperk van twee jaar op die raad, maar hulle het die opsie op weer verkies te word.

Die 12 leerders kom van Europa, die VSA, Latyns-Amerika, Afrika en Asië.

Anica het in Desember vir die JAB aansoek gedoen nadat sy deur ’n vriend daarvan gehoor het.

Volgens die IE?Universiteit se webblad moet die jong leiers wat op die JAB dien, ’n onafhanklike gees, akademiese uitmuntendheid, verbale vaardighede, kreatiwiteit en sterk bande met hul gemeenskap weerspieël.

“Ek moes talle vrae in opstelvorm op die aansoekvorm beantwoord,” vertel Anica.

Sy het verlede week gehoor sy gaan Spanje toe. “Ek was oorweldig. Ek het een aand na 23:00 my e-posse deurgelees, en daar was ’n e-pos van IE wat my wildste drome bewaarheid het. Ek gaan Spanje toe!”

Sy sê haar ouers, mnr Joey en me Ria Potgieter, wat in die Oudtshoorn-distrik boer, was net so stomgeslaan oor die nuus.

Anica vertel dat sy reeds ’n boek aangeskaf het om die basiese Spaanse woordeskat aan te leer. “En ek is so gelukkig om na afloop van die beraad ’n verdere vier dae in Madrid te bly om die kultuur en ander interessanthede te beleef,” vertel sy opgewonde.

Lewer Kommentaar

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

* Copy this password:

* Type or paste password here:

96 Spam Comments Blocked so far by Spam Free Wordpress

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX