DAAR is nog net ’n week oor voor vanjaar se Relay for Life (RFL), ’n jaarlikse instelling op Oudtshoorn en ’n belangrike datum in baie mense se dagboek. Vanjaar se RFL waarmee weer eens vir Kansa geld ingesamel gaan word, vind vanaf Saterdag 4 Februarie tot Sondag 5 Februarie by die De Jager Sportstadion op die dorp plaas.
Volgens me Yvette Lötter, voorsitter van 2012 se RFL, is daar reeds groot belangstelling onder plaaslike inwoners vir vanjaar se RFL. “Daar is egter plek vir nog baie spanne,” sê sy. “Vanjaar beloof ook om nóg meer opwindend en vermaaklik te wees as vorige jare!”
Spanne van 10 tot 12 persone kan teen R50 per persoon inskryf. Lötter het egter spanne aangemoedig om ook ekstra fondse in te samel of te genereer, aangesien die mikpunt per span R2 000, inskrywingsfooi ingesluit, is.
Luminaria-sakkies waarin kerse teen sononder geplaas gaan word, is reeds vir ’n skamele R10 elk by verskeie besighede op Oudtshoorn te koop. Volgens Lötter is die idee dat die sakkie versier word ter ere van enigiemand wat die pad met kanker gestap het – of dit nou ’n persoon is wat die stryd verloor het, een wat tans die stryd stry, of een wat in remissie is.
“Die luminaria-seremonie by die Relay for Life is altyd aangrypend. Dit versinnebeeld die rede waarom die RFL gehou word – niemand wat hierdie seremonie al beleef het, staan meer onverskillig teenoor die groot K nie,” sê sy.
Sakkies kan nadat dit versier is, terugbesorg word aan die Kansa-kantoor (bokant Mr Price in Oudtshoorn) wat sal toesien dat dit om die tartanbaan uitgepak word vir die seremonie met sonsondergang. Almal wat die geleentheid bywoon, kan dan om die baan stap en so alle kankerlyers eer.
Luminariasakkies is te koop by Die Hoorn, The Flying Ostrich, H&R Stationery, The Photo Workshop, Die Herrie, Waltons, Millies Market, Weshandelshuis, PNA, Bon Appetit, Spot On, Ton’s Sport, Queen’s Apteek, Betterway Living en Kleine Pandora.
• Kankeroorwinnaars word ook aangemoedig om die byeenkoms by te woon. Kontak Sanet Els by 083 419 4788 vir meer inligting.
• Kontak Minette Engelbrecht by 084 708 2959 vir meer inligting oor spanne.
• Kontak Yvette Lötter (07212 752 83) of Amanda Serfontein by die Kansa-kantoor (044 272 2724) vir enige ander inligting oor RFL.



