Deur Liesel le Roux
’N NUWE tradisie is Sondagaand op Oudtshoorn begin toe die Chinese Nuwejaar ook hier gevier is – kompleet met Chinese lanterns, Chinese kos en ander versierings.
Vieringe om die Jaar van die Draak ook hier te verwelkom is deur die Aviv International Flight Training Academy (Aifa) op Oudtshoorn aangebied vir die groep Chinese leerlingloodse wat hul opleiding op Oudtshoorn ontvang.

Oudtshoorn se gasvryheid was Sondagaand sigbaar toe ’n spesiale geleentheid by die Oudtshoorn Lughawe aangebied is om die Chinese Nuwejaar te vier saam met die groep Chinese vliegloodse wat tans op die dorp opgelei word. Hier stuur van die jong loodse Chinese lanterns om presies twaalfuur Oudtshoorn se lugruim in. Hoewel die skiet van vuurwerke in China ’n groot rol speel tydens die Nuwejaarsvieringe, is besluit om nie op ’n Sondagaand op Oudtshoorn vuurwerke te skiet nie, maar eerder die lanterns op te stuur.
Terwyl die Suid-Afrikaners om tafels gekuier het, het die vriendelike jong Chinese basketbal gespeel, in groepe gesit en speletjies speel en met hul families geskype.
Die 29 jong leerlingloodse het in November op die dorp aangekom. Nog ’n groep van 50 kom die middel van die jaar hier aan. Volgens een van die direkteure van Aifa, mnr Jean Rossouw, gaan opleiding van groepe van sowat 80 studente uiteindelik by vyf basisse in die Suid-Kaap aangebied word, naamlik ook op George, Swellendam en nog twee plekke wat geïdentifiseer sal word. Studente bly ’n jaar lank op die dorp waarna hul terugkeer en die meeste by rederye gaan aansluit.
Rossouw sê daar is al R45 miljoen in Oudtshoorn geïnvesteer sedert met die opleiding hier begin is. Sowat R700 word per dag per student op verblyf en kos bestee. Aifa het reeds verskeie eiendomnme op die dorp bekom om studente in te huisves, waaronder Stonebreaker Lodge in Schoemanshoek. Aifa besit of huur ook agt ander huise. Twee loodse is reeds deur hulle op die lughawe gebou terwyl nog twee gebou gaan word. ’n Beheertoring gaan ook opgerig word. Volgens Rossouw wil die Chinese loodse graag by die gemeenskap van Oudtshoorn inskakel. Tydens die Rugbywêreldbeker verlede jaar het hulle ook Vrydae hul groen hemde gedra en fondse ingesamel wat aan ’n behoeftige skool geskenk is. Hulle beoog ook om verder by die gemeenskap betrokke te raak. “Hulle wil graag tydens hul verblyf deel word van Oudtshoorn.”
Rossouw sê Oudtshoorn is die ideale plek om loodse op te lei. “Waar George se weer sowat 250 dae per jaar gunstig is vir opleiding is dit op Oudtshoorn 340 dae van die jaar gunstig.”



