info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089

OBB-pogings geminag

DIE uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn, mnr Gordon April, se versuim om te reageer op die jongste memorandum van die Oudtshoorn Burgerlike Beweging (OBB) word as ’n minagting van die beweging se gematigde en ordelike pogings om versoening, geregtigheid en stabiliteit in die Groter Oudtshoorn te bewerkstellig, beskou.

Mnr Pietie Mooney het namens die OBB gesê die beweging gaan nou op Sondag 19 Februarie vanaf 15:00 ’n vergadering in die saal van die Aurial Kollege in Springbokweg, Bridgton hou om terugvoering aan die publiek te gee en te praat oor die pad vorentoe.

“Ons beoog om by dié vergadering oor te gaan tot die amptelike stigting van die OBB. Ons doen ’n dringende beroep op alle inwoners wat hulle met die oogmerke van die beweging vereenselwig, om die vergadering te kom bywoon die OBB te steun deur by die beweging aan te sluit,” het hy gesê.

Volgens Mooney het die OBB ’n agenda en tree daarvolgens op. “Ons glo egter ons kan nie sonder ’n bewese mandaat van inwoners optree nie. Daarom gaan ons nou die vergadering hou om amptelik die beweging te stig en lede te begin werf, want die OBB?wil soveel moontlik inwoners se steun kry sodat hy ’n mandaat het as hy eise stel.

“En diegene wat dink die OBB se monde is stil, hou ons dop. Ons bepaal ons by ons eie agenda en probeer nie verdeling saai deur ons monde oor ander uit te spoel nie. Ons assosieer ons nie met diegene wat mense persoonlik aanval en verneder nie. Ons het ’n taak en ons sal dit doen deur op die bal en nie die man te fokus nie,” het hy gesê.

Die OBB het op Dinsdag 15 November verlede jaar met sy veldtog om versoening en geregtigheid begin met ’n vreedsame en ordelike optog na die munisipale kantore waar ’n memorandum aan onder andere April oorhandig is. Die optog was merkwaardig in dié opsig dat groot getalle witmense saam met hul bruin mede-inwoners daaraan deelgeneem het.

By ’n daaropvolgende vergadering van die OBB op Dinsdag 29 November met April en die toe waarnemende munisipale bestuurder, mnr Mpho Mogale, waar April op die memorandum sou gereageer het, het hy die OBB vir meer inligting oor beweringe in die memorandum gevra.

In reaksie hierop het die OBB op 6 Desember ’n aanvullende memorandum by die kantore van die burgemeester, die munisipale bestuurder en die speaker afgelewer.

Die OBB het weer Vrydag by April se kantoor navraag gedoen oor waarom April nie op die memorandum reageer nie. Daar is steeds geen terugvoer ontvang nie. Mnr David Piedt, wat ook by die OBB betrokke is, het vandeesweek gesê hy beskou April se versuim om op die aanvullende memorandum te reageer as ’n minagting van die OBB?se ordelike, vreedsame en gematigde veldtog om ’n bydrae te lewer tot versoening, geregtigheid en stabiliteit tot voordeel van al Oudtshoorn se inwoners.

Piedt het gewaarsku dat as die OBB nie slaag om sy oogmerke met gematigde optrede te bereik nie, sal tot meer kragdadige optrede oorgegaan word. “Niemand moet ons erns om orde en versoening in die Groter Oudtshoorn te verseker onderskat nie.”

Hy het bygevoeg hoe meer mense die OBB ondersteun, hoe doeltreffender sal die beweging wees.

• In die aanvullende memorandum wat op 6 Desember aan April oorhandig is, sê die OBB?uit sy kommunikasie met April het dit uit April se eie insette geblyk dat die situasie in die raad en by die munisipaliteit onhoudbaar is en daar ernstige probleme en korrupsie voorkom, asook dat die raad vir alle praktiese doeleindes sedert die verkiesing op 18 Mei nie gefunksioneer het nie.

Ander probleme waarna in die memorandum verwys is, is:
• Die situasie rondom die Riemvasmaak-woongebied en of wetlike prosesse gevolg is voor die totstandkoming van die woongebied.
• Die voortslepende spanning oor aantygings van korrupsie, insluitende die aantygings van ongerymdhede teen April self;
• Geldvermorsing rondom skikkingspakkette vir amptenare wat onder ’n wolk die munisipaliteit se diens verlaat het. “Kan u ons die versekering gee dat die amptenare wat so pas aangestel is op meriete gekeur is ooreenkomstig professionele menslike hulpbronbeginsels en dat toekomstige aanstellings dienooreenkomstig gedoen sal word,” lui die memorandum.
• Aanstelling van munisipale personeel sonder dat daarvoor begroot is en waarvoor nie voorsiening op die organogram gemaak is nie, onder meer in die kantore van die onderburgemeester en speaker.
• Die ernstige finansiële knyp waarin die Oudtshoorn Munisipaliteit tans verkeer.
• Twis en onmin tussen raadslede, insluitende die ernstige wantroue tussen die burgemeester en van sy mede-ANC-raadslede.
• Ernstige tweespalt en wantroue tussen raadslede en amptenare asook tussen amptenare onderling.
(’n Vergadering om die OBB?se terugvoer- en stigtingsvergadering van Sondag 19 Februarie te organiseer, vind Dinsdag 31 Januarie om 15:30 by die Aurial Kollege plaas.)

Lewer Kommentaar

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

* Copy this password:

* Type or paste password here:

96 Spam Comments Blocked so far by Spam Free Wordpress

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX