info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089

Hoës praat by ANC-vieringe

Deur Garnett Wicomb

“DIE ANC gaan nie oorleef as hy die uitdagings wat gemeenskappe in die gesig staar, ignoreer nie. Ons kan nie op die verlede roem nie en die regering doen te min om armoede te verlig.”

So het adj-pres Kgalema Motlanthe Saterdagmiddag op die Bridgton Sportgronde aan die honderde ondersteuners van die ANC gesê wat van regoor die Wes-Kaap gekom het om die ANC se 100 jaar-vieringe by te woon.

Motlanthe het gesê mense moet toegelaat word om hulself te organiseer en te sê wat hul behoeftes is.

“As jy vir die regering sit en wag, sal niks gebeur nie,” het Motlanthe gesê.

Hy het hulde gebring aan almal wat hul bloed gegee het vir die stryd om bevryding.

“Ons dink vandag terug aan die reuse van die verlede, maar ons moet ook duidelik wees oor waarheen ons op pad is. Dit is goed om hulde te bring, maar die organisasie het vandag helde en simbole nodig.”

Volgens Motlanthe is die drie grootste uitdagings vir die ANC armoede, werkloosheid en ongelykheid.

Opvoeding, gesondheid, werksgeleenthede, die stryd teen misdaad en korrupsie en ook plattelandse ontwikkeling is die regering se vyf prioriteite.

“Die gaping tussen die platteland en stedelike gebiede moet vernou word en onderwys tot ‘n baie hoër vlak geneem word,” het Motlanthe gesê.

Die Wes-Kaapse leier van die ANC, mnr Marius Fransman, het gesê Oudtshoorn is vir die Wes-Kaapse feesvieringe gekies omdat die dorp ‘n belangrike rol in die bevrydingstryd gespeel het.

“Die dorp is tans vol teenstrydighede met ‘n skewe ekonomie. Hier is te veel baie ryk mense en te veel armes.”

“Ons het jaarliks die KKNK hier, maar wat kry die gewone mense van die dorp daaruit? Oudtshoorn is ‘n internasionale punt, maar waarom is armoede so hoog?”

Fransman se boodskap aan almal op Oudtshoorn was om hande te vat met die raad.

“Die raad is nie ‘n vyand nie.”

Volgens Fransman het die tyd ook aangebreek dat rassisme op Oudtshoorn uitgewis word.

Die ANC moet die Wes-Kaap oorneem en die grootste uitdaging is op Oudtshoorn, het Fransman gesê.

Hy het hulde gebring aan wyle Reggie Oliphant wat ‘n belangrike rol in die politieke bevrydingstryd gespeel het.

Die Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu, mnr Tony Ehrenreich, het ‘n pleidooi gelewer vir beter onderwysgeleenthede vir almal.

“Die land se kinders moet almal dieselfde geleenthede kry en dit bly onaanvaarbaar dat die ou Model C-skole steeds met al die geriewe sit en die skole in die woonbuurte met niks.”

Volgens hom moet dit reggestel word en kan net gebeur as almal saam trek.

“En ons moet hier op Oudtshoorn begin sodat die ANC die Wes-Kaap kan oorneem,” het hy gesê.

Vyf beeste is vir Saterdag se feesvieringe geslag.

• Oudtshoorn is die eerste dorp waar die ANC se eeufeesfakkel in die Wes-Kaap op Saterdag 4 Februarie sal aankom.

Op 5 Februarie is dit op Mosselbaai, op 6 Februarie op Sedgefield en op 7 Februarie sal dit by die burgersentrum op George te siene wees.

One Response to “Hoës praat by ANC-vieringe”

  1. Jasmine says:

    Mnr Tony Ehrenreich
    Model-c skole se ouers betaal skoolgelde en daar is komitees wat spesifiek fokus op fondsinsamelings ten einde hierdie geriewe te kan besit. U weet dit tog… of waar gaan u kinders skool of het hulle skoolgegaan?

Lewer Kommentaar

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Wat is 10 + 4 ?
Please leave these two fields as-is:
BELANGRIK! Om kommentaar te lewer, moet jy die sommetjie hierbo voltooi.   IMPORTANT! To be able to proceed, you need to solve the simple maths problem above.
Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX