info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089

Met vuis gemoker

Deur Liesel le Roux

‘N BEKENDE sakeman van Oudtshoorn, mnr Evert Smith (35), het Dinsdag vlugtig in die landdroshof op Oudtshoorn verskyn in verband met die beweerde aanranding van ‘n liggaamlik gestremde prokureur op die dorp.

Smith moet op 29 Februarie weer in die hof verskyn.

Sy hofverskyning spruit uit die beweerde aanranding van mnr Hennie Jacobs (63) Vrydagoggend aan die agterkant van Jacobs se huis by die ingang vanaf Nelstraat. Jacobs is ‘n dwerg van slegs 1,1 meter lank en werk deeltyds as prokureur.

'n Knop is hier duidelik teen die regterslaap van mnr Hennie Jacobs, 'n ligaamlik gestremde prokureur van Oudtshoorn, te sien. Die foto is Saterdagoggend geneem.

Die vlieg in die salf is klaarblyklik ‘n dispuut oor geld vir bouwerk wat Smith in 2007 vir Jacobs gedoen het en wat Smith beweer nog aan hom verskuldig is.

Luidens ‘n beëdigde verklaring van Jacobs aan die Polisie het die beweerde aanranding omstreeks 10:30 plaasgevind terwyl hy in sy spesiaal omgeboude Nissanbakkie aan die agterkant van sy huis gewag het op me Maria Jacobs, die gesin se huishulp, om die hek vir hom te kom oopmaak. Hy het haar met sy selfoon geskakel om te kom help aangesien hy moeilik beweeg.

Volgens mnr Jacobs se verklaring het hy me Jacobs al van ver sien aangestap kom toe hy ook uit die hoek van sy oog iemand anders van die kant sien nader kom na sy bakkie.

Dit is gevolg deur ‘n “geweldige klap” teen die kant van sy gesig. Sy verklaring lui voorts: “Ek het my kop effens na regs gedraai waar die klap vandaan gekom het, en die volgende oomblik het die persoon my met ‘n geweldige vuishou teen my kop geslaan.” Volgens die verklaring het hy sy beweerde aanrander as Smith herken en het laasgenoemde hom ook gevloek en gevra wanneer hy wat Jacobs is hom gaan betaal. “Ek was verwilderd en bevrees dat hy my weer gaan slaan en het begin smeek dat hy nie moet slaan nie en dat ek hom sal betaal wanneer ek ‘n rekening kry,” lui die verklaring voorts.

Jacobs sê in die verklaring dat hy nou in “hewige vrees” vir sy eie veiligheid en die van sy gesin en huishulp leef. “Ek voel erg vernederd en bang en het ‘n hewige pyn aan die kant van my kop. In my hele bestaan as prokureur het niemand nog ooit so iets vernederend, vreesaanjaend en pynlik aan my gedoen nie,” lui die verklaring.

Jacobs het die afgelope week aangedui dat hy ook beoog om ‘n siviele saak teen Smith te maak en reeds mnr Christo van der Berg as sy prokureur aangestel het.

14 Responses to “Met vuis gemoker”

  1. vra maar net says:

    Ek sien mnr Smith se kant van die saak in. ‘n Mens word so kwaad dat jy voel jy kan ‘n persoon se kop afruk. Maar al het mnr Jacobs watookal gedoen, verdien hy nie om aangerand te word nie. Ek het so pas die video gekyk waar ‘n taxibestuurder ‘n persoon wat opsetlik drentel omgery het, en toe nog boonop in die gesig geskop het. Die uittartende gedrag van die voetganger het die reaksie ontlok, maar dit regverdig geensins die taxibestuurder se optrede nie. Ek is bevrees hier kom ‘n eis wat skrik vir niks…

  2. André Barnard says:

    Lizel, jy klink ingelig. Ongelukkig blyk dit net die eenkant van die saak te wees. Mnr Smith as ‘n eerbare man moes die eerbare weg gevolg het. Ons het mos regstelsels in plek.
    Integriteit in besigheid en aanranding het niks met mekaar uit te waai nie.

  3. Lizel de Waal says:

    EK VOEL VIR ENIGE EERLIKE SAKEMAN IN HIERDIE DORP, die ekonomie knaag… het Hennie sy skuld by Evert betaal? As ek dit reg verstaan, was Evert se integriteit nog nooit in besigheid in twyfel getrek nie. Kan Hennie dieselfde sê?

  4. André Barnard says:

    Sneeuwytjie, Johan en Vra maar net.

    Ek sien julle is moedig genoeg om twak/ snert kwyt te raak, maar nie MOEDIG genoeg om julle name te gee nie. Wonder hoekom?

    Julle is lafaards. Gee jou naam, wys jou gesig!!!

    Julle praat baie, maar sê min. Die gereg sal sy gang gaan en die waarheid sal seëvier. En ja, lewer nou kwetsende kommentaar op my. Ek kan dit verwag van julle af.

    So terloops, my naam is André Barnard.

  5. Susan says:

    Evert en al die ander wat hom ondersteun; ek is seker Johan Kotze voel ook sy vervreemde vrou verdien wat sy gekry het (Modimolle-monster). Ek hoop nie een van julle vrouens/mans/kinders gaan ook eendag met ‘n persoon te doen kry wat die reg in eie hande neem nie. Onthou egter dat julle sulke gedrag goed praat en moet dan nie kla en simpatie verwag nie. Ek veroordeel sulke gedrag en kies om aan ons siviele wette gehoor te gee; omdat ek so hanteer wil word en ook wil hê my familie moet regverdig verhoor word. Sterkte Hennie en Elmarie.

  6. Flinkdink says:

    Ag nee man! ‘n Mens foeter nie ‘n weerlose mannetjie nie, jy vryf hoogstens sy hare deurmekaar!

  7. Schalk le Roux says:

    By navraag het een van die tweeling, mnr Daniël Oosthuizen, aan Die Hoorn bevestig dat hy en sy broer nooit vir mnr Jacobs “gevang” het nie en dat dit ‘n wolhaarstorie is.

  8. Sneeuwytjie says:

    Mnr Jacobs, Have you ever heard the story “The Boy Who Cried Wolf”?

  9. Sue says:

    Die kommentaar hierbo is werklik swak smaak en kom van mense wat geen begrip van die lewe het nie. Om sulke barbaarse optrede goed te praat en jou te verlustig daarin, waar ‘n persoon van 63 jaar en boonop gestremd is aangerand word, spreek boekdele vir diesulkes. Niemand het in elk geval sulke mense se ondersteuning of begrip nodig nie en nog minder is mens afhanklik van hulle. Om die waarheid te sê wil ek myself nie eers met hulle vereenselwig nie. Jammer dat die land se morele waarde so gedaal het dat mense wat ander moet probeer ophef saam met diesulkes afgesak het en swakker morele waardes ontwikkel het. As hulle met so ‘n gestremdheid opgeeindig het sou hulle totaal ondergegaan het. Hennie het uitgestyg bo sy gebrek en as prokureur gekwalifiseer. Ek sak my kop in skaamte vir die mense.

  10. Johan says:

    Hmmm. Ek ken nie die dwergie nie, maar van wat ek hoor van mense op die dorp is dit hoog tyd dat iemand hom vasvat. ‘n Mens kan nie agter jou prokureursskap en dwergskap wegkruip nie.

  11. Elmarie Jacobs says:

    Soms skok die lewe ‘n mens met ‘n ondervinding wat jou uit jou gemaksone forseer en jou dwing om standpunt in te neem. Gelei deur die oortuigings van jou innerlike morele kompas, word jy vertroos deur ander mense se ondersteuning en begrip, maar is jy nie afhanklik van hulle nie. Jy WEET wat is reg en wat is verkeerd, en jy STAAN, of jy omring is en of jy alleen is… Sedert die aanranding op my man verlede week STAAN ek.
    Die impak van die aanval en die kommentaar van diegene wat hulle verlustig daarin, laat my uiters geskok en ontnugter. Om ‘n weerlose, byna-bejaarde, gestremde mens aan te rand, is onaanvaarbaar, onverskoonbaar en afstootlik. Ek verwerp dit met die totaliteit van my MENSWEES. En om dit goed te praat, is ewe verfoeilik. Sies, sies en nogmaals sies!!! (Elmarie Jacobs)

  12. Schalk le Roux says:

    Vra maar net, ek het ook jare gelede die storie gehoor van die tweeling wat mnr Jacobs sou gevang het. Aangesien dit nou weer ter sprake kom: mnr Jacobs ontken dat so iets ooit plaasgevind het. Ek is besig om verdere navraag oor die saak te doen en sal dit hier plaas sodra ek meer inligting het.

  13. Vra maar net says:

    “In my hele bestaan as prokureur het niemand nog ooit so iets vernederend, vreesaanjaend en pynlik aan my gedoen nie,” lui die verklaring.

    En wat van die keer toe die poeliesman se tweeling jou gevang het en in die garage opgesluit het?

  14. Sneeuwytjie says:

    Sneeuwitjie, ons kan nie jou kommentaar plaas nie, want ons sal onsself aan ‘n lastereis blootstel.

Lewer Kommentaar

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Wat is 12 + 13 ?
Please leave these two fields as-is:
BELANGRIK! Om kommentaar te lewer, moet jy die sommetjie hierbo voltooi.   IMPORTANT! To be able to proceed, you need to solve the simple maths problem above.
Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX