Deur Carina Fourie
‘N VOORMALIGE restauranteienaar van Oudtshoorn, mnr Friedl Roller (39), moet op 21 Februarie op ‘n aanklag van moord in die Mosselbaai Landdroshof verskyn ná ‘n botsing die afgelope naweek waarin twee kinders gesterf het.
Een van dié kinders, Sonja van Wyk (11), was ‘n oud-leerder van die Laerskool Oudtshoorn-Noord en haar ouers oud-inwoners van Oudtshoorn.
Roller het Maandag op aanklag van strafbare manslag in die landdroshof verskyn, maar die aanklag is intussen na ‘n aanklag van moord verander.
Die botsing het Vrydagaand omstreeks 20:40 op die hoek van Louis Fourieweg en Kaap De Goedehoopstraat in Hartenbos plaasgevind.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die SAPS in die Wes-Kaap, toon ‘n voorlopige ondersoek dat Roller, in ‘n wit Ford Focus, deur ‘n verkeersbeampte van die pad getrek is nadat hy die beampte op ‘n sperstreep in Voorbaai verbygesteek het.
Die verkeersbeampte het ‘n kollega versoek om te kom help, waarna Roller na bewering in sy motor gespring en weggejaag het.
Pojie sê die beampte sê hy het gesien hoe die Ford Focus verskeie padtekens en verkeersligte verontagsaam en bots met ‘n ligblou Opel wat deur mnr Jaco van Wyk bestuur is.
Twee van die insittendes van die Opel, Janika van Wyk (7) en Danté Hageman (10), is met die slag van die botsing na buite geslinger. Hageman en Sonja wat nog in die motor was, het op die toneel gesterf. Volgens Potjie was enjin- en motorwrakstukke oral oor die toneel gestrooi.
Mnr Van Wyk, wat aanvanklik in ‘n koma was nadat hy ‘n hou teen die kop gekry en ‘n nekwerwel gebreek het, is Dinsdag eers ingelig dat Sonja gesterf het. Volgens ‘n familielid wat anoniem wou bly, was hy baie ontsteld oor die nuus.
Hy en Janika is albei in die George Provinsiale Hospitaal. Janika moes verskeie bloedoortappings kry en haar regterbeen en stuitjie is gebreek.
Volgens die familielid het die Van Wyk-gesin sowat twee jaar gelede vanaf Oudtshoorn na Hartenbos getrek. Van Wyk was lank ‘n gids by die Buffelsdrift Game Lodge.
Die hoof van die Laerskool Oudtshoorn-Noord, mnr Thys Meyers, het vandeesweek sy skok oor Sonja se dood uitgespreek. “Ek het onmiddellik die gesiggie van Sonja herken,” het hy gesê.
Roller het minder ernstige beserings en ‘n verstuite enkel opgedoen. Volgens Pojie het Roller die Polisie ook ‘n tweede keer probeer ontduik deurdat hy na bewering deur ‘n badkamervenster by die hospitaal waar hy vir waarneming was, probeer ontsnap het.
Roller bly in aanhouding tot 21 Februarie wanneer hy weer in die hof sal verskyn en om borgtog aansoek sal kan doen.
• Hulp is die afgelope week gevra vir die begrafniskoste van Sonja en Danté en mediese koste van die gesin. Bydraes kan inbetaal word by FNB, Langeberg Mall, Rekeningnaam: Laerskool Hartenbos, tjekrek: 62034354332. takkode: 250134, verwysing: Van Wyk en Hageman. Sonja word Saterdag om 14:00 vanuit die Laerskool Hartenbos se skoolsaal begrawe.




