info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089

Raadslid woeker self in wyk

INWONERS van Oudtshoorn stop om met hom te gesels en ander bring self koeldrank, vertel mnr Peter Roberts, raadslid vir Wyk 7, wat die afgelope ruk self ingespring het om sy wyk skoon te maak.

Sy leuse vir sy wyk is: Hou skoon, plant en beveg aardverwarming, sê Roberts waar hy vandeesweek in die warm Klein Karooson bossies op die sypaadjie van Condorstraat langs die ou begraafplaas uitgespit het.

Raadslid Peter Roberts Dinsdagmiddag aan die skoonmaak in Condorstraat.

“Ek moet erken dat ek nog nooit van tuinwerk gehou het nie, maar uit pure frustrasie het ek besluit om self te begin om in my wyk skoon te maak en ek wil ook inheemse plante en bome plant. Die munisipaliteit sukkel met finansies, maar ek kan nie meer wag totdat daar geld is nie, en het sommer hand in eie sak gesteek om te begin.”

Roberts se hy het in die Desembervakansie reeds toerusting aangeskaf en begin om sekere dele in die wyk skoon te maak. “Mnre David Ruiters en Jan Ayford van Inkunkuma Solutions het my oor die vakansie gehelp om die kloof langs die St Luigi Scrosoppi Sorgsentrum te begin skoonmaak. En sedert ek in Desember begin het, het ek al vier kilogram verloor, en my liggaam wys al tekens van spiere wat ontwikkel. Ek het gou gevoel hoe so ‘n bietjie harde werk voordele inhou vir die gesondheid.”

Roberts sê daar is verskeie projekte wat hy oor die volgende vier jaar in samewerking met die Oudtshoorn munisipaliteit en ander rolspelers in sy wyk wil loods.

“Ek sal samewerking met enige organisasie, individu, groep, skool of besigheid met dieselfde doelstellings verwelkom. In my onkunde mag daar selfs persone wees wat alreeds iets soortgelyks doen, en ek sal graag met hulle wil skakel.”

Roberts sê me Susan Botha van CapeNature en mnr Freek Jonck van Korrektiewe Dienste het alreeds aangebied om kundigheid en mannekrag beskikbaar te stel. Botha het ook die hulp van ‘n kenner van inheemse plantegroei, dr AnneLise Vlok, ingeroep.

“Ek hoop van harte dat meer mense betrokke sal raak, en ons saam by kundiges soos dr Vlok meer sal leer oor ons pragtige natuurerfenis.

“Die plant van bome en inheemse plante om aardverwarming te beveg is een van ons belangrikste prioriteite as mense wat op die kosbare planeet leef.”

Roberts het gevra dat enigiemand wat betrokke wil raak, hom by sel 082 864 0328 of sel 076 848 2553 kontak.

One Response to “Raadslid woeker self in wyk”

  1. Denrick says:

    Welgedaan Peter!

    Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg, en dis verfrissend om positiewe nuus te lees te midde van al die negatiweit wat Oudtshoorn omring die afgelope paar jare in soverre dit die munisipaliteit betrek!

Lewer Kommentaar

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>

Wat is 15 + 8 ?
Please leave these two fields as-is:
BELANGRIK! Om kommentaar te lewer, moet jy die sommetjie hierbo voltooi.   IMPORTANT! To be able to proceed, you need to solve the simple maths problem above.
Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX