TWEE rolspelers in ‘n storie wat al jare op Oudtshoorn as die waarheid oorvertel word, het albei vandeesweek teenoor Die Hoorn aangedui dat die storie nie waar is nie.
Mnr Daniël Oosthuizen het aan Die Hoorn bevestig dat die storie dat hy en sy tweelingbroer mnr Hennie Jacobs, ‘n prokureur van die dorp, “gevang” en toegesluit het, nie waar is nie en bloot ‘n wolhaarstorie is.
Jacobs het ook ontken dat so iets ooit plaasgevind het.
Dié ou storie het die afgelope week op Die Hoorn se webblad (www. diehoorn.co.za) opgeduik toe ene Vra maar net daarna in sy kommentaar op ‘n berig oor die beweerde aanranding van Jacobs verwys het.
Nou laat dit ‘n mens net wonder hoeveel van wat ons daagliks hoor die waarheid is.
Hoeveel stertjies word aangelas wanneer inligting oorgedra word?
En amper die belangrikste: Hoekom doen ons as mense dit; hoekom las ons by of skep ons stories wat boonop dikwels ander in ‘n slegte lig stel of verdag maak?
‘n Inwoner van Oudtshoorn, Verdon Bence, skryf die afgelope week op Die Hoorn se Facebook-bladsy: Ek kan my ore nie glo wat ek als vandag al gehoor het nie. Welkom in Oudtshoorn.
En dan is mense boonop lief daarvoor om naamlose sms’e te stuur of kommentaar oor ander op die internet of elders te lewer.
Hoekom skinder ons so graag skelm en naamloos?
Die wêreld sal ‘n baie vriendeliker en genadiger plek wees as ons almal mekaar in aanmerking neem wanneer ons skryf en praat, en boonop dit wat ons vertel en skryf onder ons eie name doen. Dalk, net dalk, sal die stories dan minder word.
Volg die regsproses
Dit gebeur soms dat lesers van Die Hoorn kommentaar wil lewer op beriggewing oor ‘n hofsaak of ‘n voorval waaruit ‘n hofsaak sal spruit, of ons van alternatiewe inligting wil voorsien.
Die Hoorn is egter gebind om die regsproses te eerbiedig en kan slegs oor die klag en oor getuienis wat voor die hof dien, berig.
Ons mag nie terwyl ‘n hofsaak nog nie afgehandel is, kommentaar buite-om dit plaas en so ‘n eie “hofsaak” hou wat die hofsaak mag beïnvloed nie.
Dit is soms vir betrokkenes by hofsake baie moeilik omdat sulke sake so lank sloer, soms vir jare lank.
Na afloop van die hofsaak kan kommentaar van betrokkenes egter geplaas word indien hulle die geleentheid sou wou gebruik.





Baie dankie vir hierdie insiggewende redakteursbrief in vandag se Hoorn. Ek stem natuurlik saam met alles wat daar geskryf is, VRA MY, ek is reeds 18 jaar met Hennie getroud! Ongelukkig vererger hierdie mense se oorgelewerde en tweedehandse leuens, kwetsende grappies en insiglose kommentare net die situasie. Daar is MIN MENSE wat die “Hennie” ken wat ek ken, ek het deurgebreek en die “mens” leer ken, wat meeste mense vir een of ander rede nooit doen nie .. daarom moet jy verstaan dit is vir my VEEL ERGER om hierdie aanmerkings te lees. In die 18 jaar saam met hom het ek nog nooit soveel kwetsende kommentare en platvloerse gespot oor akondroplasie (dwergisme) gehoor en beleef soos hierdie afgelope week nie … en dit openlik, sonder skaamte, sonder om te skroom, sommer net vir die lekkerkry of ‘n “ego boost” klink dit vir my … Ek is en was nog nooit skaam om met Hennie getroud te wees omdat hy ‘n dwerg is nie. Trouens, ek bewonder hom vir sy vasberadenheid, moed en durf om uit te styg bo sy gestremdheid en op 63 jaar steeds stof in die oë te skop van menigte mense wat wel nie fisiese gebreke het nie, maar veel minder lewenssuksesse (op alle terreine) bereik het en erg ly aan persoonlike gestremdhede … ‘n toestand wat, lyk my, ewe ongeneeslik en boonop hoogs aansteeklik is.