info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089
Facebook Besoek ons op facebook

Waghond wil belasting terughou

DIE burgerlike organisasie Oudtshoorn Waghond is besig om ondersoek in te stel of aan alle wetlike vereistes voldoen is met die verhoging van elektristeitstariewe in 2012.

“Indien ons vind dat nie aan wetlike vereistes voldoen is nie en die verhogings onwettig is, gaan lede van Oudtshoorn Waghond begin om hul belastings terug te hou,” sê mnr Nic Barrow, prokureur van Oudtshoorn Waghond.

Volgens Barrow het Oudtshoorn Waghond reeds ’n brief aan die waarnemende munisipale bestuurder, mnr Francois Human, gestuur waarin gevra word of ’n openbare deelnameproses gevolg is voordat die verhogings in werking getree het, asook vir volle besonderhede en kennisgewings oor sodanige proses.

• Barrow sê ook hy en sy bodes is in Desember toegang tot die munisipale gebou op Oudtshoorn geweier en moes koeverte deur die veiligheidshek gooi. Hy het ’n brief wat hy aan mnr Francois Human, waarnemende munisipale bestuurder, gestuur het ook aan plaaslike koerante gestuur vir plasing. Hierin skryf hy dat die munisipaliteit ook geweier het om korrespondensie van sy kantoor aan amptenare en raadslede te aanvaar en aan hulle te oorhandig.

Barrow tree as prokureur op van die burgerlike organisasie Oudtshoorn Waghond wat in November verlede jaar ’n siviele eis van R600 000 ingestel teen die 13 raadslede wat mnr Thandekile Mnyimba as munisipale bestuurder aangestel het. Dit sluit al 11 ANC-raadslede in asook die twee raadslede wat onderskeidelik Icosa en die National People’s Party (NPP) verteenwoordig.

Volgens Barrow het sekuriteitswagte op 5 Desember gedreig om hom in hegtenis te neem indien hy die gebou sou binnegaan. “Ek moes toe uit radeloosheid die stel koeverte deur die tralies van die veiligheidshek gooi.”

Die Hoorn het ’n versoek aan die munisipaliteit gerig om op die bewerings in die brief te reageer, maar mnr Francois Human, munisipale bestuurder, het aangedui dat hy ’n antwoord aan Barrow gaan stuur.

One Response to “Waghond wil belasting terughou”

  1. andre barnard says:

    Ek het deur my vorige rekeninge gegaan en die volgende kan ook gevra word.

    1. Hoekom is die watertariewe nou op glyskale geplaas? Dit was nooit so nie.
    2. Hoekom word daar ‘n basiese fooi gehef op die elektrisiteit en hoekom is daar ook nou glyskale ingestel op die elektrisiteitsverbruik?
    3. En kan ook die afleiding maak dat die krag- en waterinkomste gebruik word om ander uitgawes te subsidieer.

    Hoop die Waghond slaag in die navraag.

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX