DIE Polisie het Dinsdagoggend in die vroeë oggendure drie kabeldiewe op heterdaad betrap toe hulle R70 000 se Telkom-kabels langs die pad na die Kango Grotte wou steel.
Een van die verdagtes is 15 jaar oud. Die ander twee is 22 en 27 jaar oud. Al drie is van Oudtshoorn.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Polisie op Oudtshoorn, het die inhegtenisneming as ’n groot deurbraak bestempel.
Vier ander voorvalle van kabeldiefstal op Oudtshoorn, waartydens kabels ter waarde van sowat R140 000 gesteel is, het sedert 31 Desember voorgekom.
Volgens Visser is ao Koos Basson, wat in die landelike gebied werk, Maandagaand omstreeks 23:00 deur ’n personeellid van Telkom gebel. Die personeellid het vermoed dat diewe besig was om kabels op die Kango Grotte-pad net buite die dorp te steel.
“Ao Basson het vir ao Karel Straus gebel. Hulle het mnre Hannes Terblanche en Daniël Lucas van Telkom net buite die dorp ontmoet en die toneel te voet genader.”
Die mans is omstreeks middernag naby die Caves Aftreeoord gekonfronteer en in hegtenis geneem. Op die toneel is sowat 400 meter-kabel gevind wat reeds afgesny en opgerol was. Daar is ook op ’n saag, leer en boutsnyer beslag gelê.
Polisieversterkings is ingeroep waarna kabelomhulsels by ’n huis gevind is. Dit kan volgens Visser moontlik aandui dat die verdagtes met die vorige voorvalle verbind kan word.
“Dit sal ondersoek word,” sê hy.
Volgens Visser is sowat 75 mense in die Schoemanshoek-omgewing se telefoon- en internetverbinding buite werking as gevolg van Maandagaand se diefstal.
Die 15-jarige het reeds Dinsdag en die twee ander verdagtes gister in die hof verskyn.








Pateties.