Deur Liesel le Roux
HY is opgewonde en bly dat die waarheid geseëvier het, sê ds Noël Pietersen (56), ’n voormalige munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn.
Pietersen het Vrydag sy appèlsaak teen sy skuldigbevinding en vonnis van vyf jaar gevangenisstraf in die Hoë Hof in Kaapstad gewen.
Hy is op 15 Februarie verlede jaar in die streekhof op Oudtshoorn aan bedrog skuldig bevind nadat hy deur die staat daarvan aangekla is dat hy R17500 van die munisipaliteit gebruik het om sy eie regskoste te betaal.
Die hofsaak het gevolg nadat ’n sakeman van Oudtshoorn, mnr Nic Barrow, in 2008 ’n klag oor die regkoste by die Polisie ingedien het.
Pietersen het in die hof volgehou dat sy optrede gevolg het op inligting van senior amptenare dat die raad besluit het om hom te ondersteun en dat dit finansiële steun ingesluit het.
Regters Anton Veldhuizen en Boqwana het Vrydag Pietersen se appèl gehandhaaf en sy vonnis tersyde gestel.
Na verneem word, is die hofsaak binne 10 minute afgehandel nadat die staat se eie advokaat, adv Jan Theron, in sy betoogshoofde Pietersen se skuldigbevinding en vonnis bevraagteken het.
Theron het ook die betroubaarheid van van die getuies en die waarde van hul getuienis in die streekhofsaak bevraagteken.
Volgens Pietersen oorweeg hy om siviele eise in te stel teen verskeie persone.
“Ek wil dit nie uit wraak doen nie, maar as regstelling van wat gebeur het,” het hy gesê.
Volgens Pietersen het die hofsaak hom ontnugter en sy lewe geruïneer.
“My hele familie het seergekry. My eie mense het aan my begin twyfel.
“Ek kan egter ook nou vertel dat die Here jou nooit in swaar tye alleen laat nie.
“Sy sorg en beskerming het my deur alles gedra. Die waarheid maak jou altyd vry.
“Ek wil ook almal bedank vir alle bystand en gebede vir my en my gesin. Dit word opreg waardeer.”
• Pietersen moet op 3 Mei weer in twee sake in die streekhof op Oudtshoorn op aanklagte van onder meer beweerde bedrog en diefstal verskyn.
Die twee sake het verlede Maandag (28 Januarie) in die streekhof op Oudtshoorn begin en spruit uit ’n ondersoek van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) by die Oudtshoorn Munisipaliteit.








En dit vat die Hoorn so lank om uit te vind dat Doomza sy appèl gewen het. Die Noord-Oos Kaap rejoice nou nog! Van al die Pietersen-fans! We’ve learned the value of PUSH -PRAY UNTIL SOMETHING HAPPENS! En Hy het ons verhoor!