info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089
Facebook Besoek ons op facebook

‘Kon noodlottig gewees het’

Deur Liesel le Roux

Geluk by ongeluk Marchal Hendriks (17, links), ’n leerder van Bridgton Senior Sekondêr, en Rico Bence (17), ’n leerder van Langenhoven Gimnasium, kon die week weer lag ná hul noue ontkoming Saterdag. Marchal en Rico was in die groep fietsryers wat Saterdag tydens Laerskool Wesbank se prettrap deur ’n bakkie op die pad tussen Calitzdorp en Oudtshoorn getref en beseer is. Marchal kon nie die fietswedren voltooi nie en is per motor teruggebring na Oudtshoorn. Rico het later ondanks sy beserings op ’n fiets geklim en die wedren voltooi.Foto: Schalk le Roux

Geluk by ongeluk

Marchal Hendriks (17, links), ’n leerder van Bridgton Senior Sekondêr, en Rico Bence (17), ’n leerder van Langenhoven Gimnasium, kon die week weer lag ná hul noue ontkoming Saterdag. Marchal en Rico was in die groep fietsryers wat Saterdag tydens Laerskool Wesbank se prettrap deur ’n bakkie op die pad tussen Calitzdorp en Oudtshoorn getref en beseer is. Marchal kon nie die fietswedren voltooi nie en is per motor teruggebring na Oudtshoorn. Rico het later ondanks sy beserings op ’n fiets geklim en die wedren voltooi.
Foto: Schalk le Roux

INWONERS van Oudtshoorn het met skok gereageer op ’n botsing Saterdag tussen ’n bakkie en ’n groep fietsryers op die pad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp. Die groep fietsryers het aan die Laerskool Wesbank se jaarlikse fietsry- en prettrapbyeenkoms deelgeneem.

Dit is dieselfde pad waar drie bekende inwoners van Oudtshoorn, mnre Jan Eloff (72), Frank Nel (60) en me Magda van Lill (50), op 8 Maart 2010 gesterf het toe hulle ook deur ’n bakkie getref is terwyl hulle vir die Argus-fietstoer geoefen het.

Tydens Saterdag se voorval het die bestuurder van die bakkie, ’n man van Mannenberg in Kaapstad, boonop weggery van die toneel. Hy is naby Oudtshoorn deur verkeersbeamptes gestop.

Een van die fietsryers, mnr Billy Flattery (25) van George, is met veelvuldige beserings per ambulans na die Klein Karoo MediClinic gebring, terwyl twee hoërskoolseuns van Oudtshoorn, Rico Bence (17) en Marchal Hendriks (17), ook beseer is.

Die ongeluk het volgens verskeie ooggetuies kort ná 09:00 gebeur toe die bestuurder van die bakkie by die groep fietsryers sowat 26 km vanaf Calitzdorp wou verbyry en beheer oor sy voertuig verloor het. Die bakkie en die fietsryers was van Calitzdorp na Oudtshoorn onderweg. “Dit kon noodlottig gewees het. Dit is ’n wonderwerk dat iemand nie gesterf het of ernstiger beseer is nie,” het dr Jacques van Staden, ’n mediese dokter van George en een van die fietsryers in die groep, vandeesweek gesê.

Volgens Van Staden het een van die fietsryers in hul groep geval, waarskynlik nadat sy fietswiel ’n ander fiets getref het, en het die bakkie na regs uitgeswaai toe dit gebeur. Die bakkie het egter die gruis langs die pad getref en toe die bestuurder terugswaai, het hy die fietsryers getref.

Van Staden sê die bakkie is op twee wiele by die fietsryers verby, maar het gelukkig nie omgeslaan nie.

“Dit was ’n sameloop van ’n klomp goed wat die ongeluk veroorsaak het, maar as die Here nie sy engele gestuur het om te help nie, kon die bakkie gerol het en kon dit noodlottig gewees het.”

Van Staden het op die toneel na Flattery omgesien. Volgens hom is gerugte dat Flattery ’n hartstilstand gehad het nie waar nie. “Ons het wel sowat 10 minute gespook om hom by te bring.”

Van Staden, wat al jare lank landwyd fietsry en ook die inisieerder is van die Cycling for Diabetes-span, het gesê hy hoop die owerhede saldit in die toekoms oorweeg om die pad vir die duur van die wedren vir verkeer te sluit soos dikwels elders met padfietsrenne gedoen word. “Hoeveel mense moet raakgery word of sterf voor iets gedoen word?”

Flattery, ’n verkoopskonsultant, is Sondag uit die hospitaal ontslaan. Volgens hom is veral sy rug erg beseer en het hy verskeie kneusings en snyplekke opgedoen. Hy het 18 steke in sy een arm ontvang. Die arm is egter nie gebreek soos aanvanklik vermoed is nie.

Mnr Corné Bence, pa van Rico en voorsitter van SWD-fietsry, sê hy vind dit ontstellend dat padfietsryers klaarblyklik nêrens meer veilig is nie.

“Baie voertuigbestuurders het net geen respek vir fietsryers nie.”

Daar was vandeesweek uit verskeie oorde oproepe dat ’n fietsrybaan op Oudtshoorn gebou moet word sodat padfietsryers veiliger kan oefen en deelneem.

Dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het verlede jaar reeds gesê hy gaan alles in sy vermoë doen om weer ’n fietsrybaan op Oudtshoorn gevestig te kry.

Mnr Alewyn Hanekom, hoof van die Laerskool Wesbank, is vol lof vir almal wat betrokke was by hulpverlening ná die ongeluk. “Baie dankie ook aan Peter van der Laan en Buks Gouws wat noodhulp op die ongelukstoneel verleen het.”

Hanekom sê die skool het baie komplimente ontvang vir die organisasie van die pretstap en prettrap en dat die goeie organisasie baie gehelp het toe die ongeluk plaasgevind het. Mediese spanne op die pad en die feit dat almal met mekaar in radioverbinding was, het bygedra dat die bestuurder van die bakkie voorgekeer kon word en daar vinnig mediese hulp verleen is.

“Ongelukkig is fietsry weens verskeie redes in Suid-Afrika ’n gevaarlike sport en ons vind dat al minder padfietsryers aan die prettrap deelneem terwyl die getal bergfietsryers toeneem – waarskynlik onder meer as gevolg van die veiligheidsaspek.”

Hanekom het gesê hy laat die saak in die hande van die Polisie.

• Die bestuurder van die bakkie is op die toneel vir alkohol getoets, maar was nie onder die invloed nie.

Hy is daarna na die Oudtshoorn Polisiekantoor gebring vir ondervraging en die aflê van ’n verklaring waarna hy vrygelaat is.

Die Calitzdorp Polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur, versuim om ná die botsing op die toneel stil te hou en ’n klag van die bestuur van ’n ongelisensieerde voertuig.

One Response to “‘Kon noodlottig gewees het’”

  1. Susan Greeff says:

    Die situasie rondom fietsryerongelukke op nasionale paaie wek groot kommer, nie net vir fietsryers nie, maar ook vir motoriste. My seun was Sondagmiddag onderweg op die R62 naby Barrydale, waar hy ‘n groep fietsryers teengekom het wat in dieselfde rigting as hy gery het. Van die fietsryers het in die aankomende verkeer se baan gery. By geleentheid kon hy verbygaan waar die pad oop voor was, maar die fietsryers wou nie plek maak sodat hy verby kon gaan nie, hulle het langs mekaar gery. Die paar kilometer tot in Barrydale het in ‘n nagmerrierit ontaard omdat die fietryers die pad vir hul toegeien het. Die groep het geen sigbare begeleiding gehad nie. My seun het die voorval by die polisie gaan aangee. Hy was erg ontsteld deur die ervaring en noem dat hy nou kan verstaan hoekom daar “road rage” teenoor fietsryers is.

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX