info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089
Facebook Besoek ons op facebook

Gewilde rymkletser sterf

Deur Liezl van Niekerk

Chalto Arries

Die jong rymkletser Chalto Arries wat ook as Young C bekend bekend gestaan het, het Saterdag tragies gesterf.

DIE dood van ’n bekende rymkletser van Oudtshoorn Saterdagmiddag in ’n motorongeluk by die Kango Bergoord het skokgolwe deur die dorp gestuur.

Chalto Arries (23), beter bekend as Young C van die rymkletsgroep DigtelikeVry8, het gesterf toe die blou Volkswagen Polo waarmee hy en twee vriende gery het, die pad bokant die Kango Bergoord verlaat en tot in die Bergoord gerol het. Hy is op die toneel van die ongeluk dood.

Honderde boodskappe van meelewing is sedert Saterdag deur geskokte familie, vriende en ander op Arries en Die Hoorn se Facebook-bladsye asook op die van vriende geplaas.

Broken does not describe what I’m feeling. A huge loss to family, friends and your community as you were the face of inspiring the youth, to never give up on their dreams, lui Jazzy Diadora se boodskap byvoorbeeld.

Volgens kapt Bernadine Steyn, woordvoerder van die Polisie in die Suid-Kaap, het die ongeluk omstreeks 12:15 Saterdagmiddag gebeur.

Die bestuurder en nog ’n insittende, is hospitaal toe geneem met ligte beserings. ’n Klag van strafbare manslag word ondersoek.

Chalto en sy rymkletsmaat Danny B was ten tye van sy dood besig met opnames vir hul tweede CD. Hulle het gereeld onder die vaandel van die sanger Paul Amas se House of Entertainment opgetree. ’n Optrede wat vir Saterdagaand by die Valentynsbal van die UCC Toekomsrus geskeduleer was, moes weens die ongeluk gekanselleer word. ’n Gebroke Amas het vandeesweek gesê hy ken Young C van kleintyd af.

“Wat my altyd sal by bly, is die respek en agting wat hy vir mense en kinders gehad het. Hy was ’n wonderlike mens. Van die verhoog af was hy stil, maar die oomblik wat hy op die verhoog geklim het, was dit asof hy in ’n ander dimensie was. Hy was gebore vir musiek en het geleef vir dit,” vertel hy.

“Chalto was gefokus op wat hy gedoen het en wat hy wou bereik. Dit is hartseer dat hy so vroeg van ons weggeneem is,” het hy gesê.

Arries se ouma, me Christina Pannas, het hom as ’n “liewe kind” bestempel.

“Hy was stil en rustig en het nooit kwaad geword nie. As ’n mens met hom praat oor iets wat verkeerd gegaan het, het hy jou net ’n kyk gegee en dan weet jy dit was nie hy nie. Hy het nooit terug baklei nie. Wanneer hy ’n geldjie gehad het, het hy altyd gesorg dat ek iets kry om kos vir die huis te koop. Ons kan nou nog nie glo dis waar nie,” het sy gesê. Pannas en ander familielede het Sondag die ongelukstoneel besoek.

“Die klip waarop hy geval het, was vol bloed. Dit lyk asof die outjie uitgeswaai het vir ’n kar. Hy het toe beheer verloor en van die pad gery.

Dit lyk asof hy met die eerste rol van die kar uitgeval en op die klip geval het. Daar was baie bloed,” het sy Maandag gesê.

’n Roudiens vir Arries is Woensdagaand reeds gehou, maar daar is vandeesweek nog twee geleenthede waar van hom afskeid geneem kan word.

’n Herdenkingsdiens met die tema Celebrating the life of Young C vind vanaand om 19:30 in die saal van Bridgton Senior Sekondêr (BSS) plaas.

Kunstenaars en vriende gaan deur musiek, poësie en stories hulde bring.

’n Uitvaarmis vind Saterdag om 12:00 by sy huis in Reebokweg plaas en om 13:00 in die St Niklaas-kerk in Bridgton.

Comments are closed.

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX