info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089
Facebook Besoek ons op facebook

Bekende sterf tydens marathon

Deur Liezl van Niekerk

’n Bekende speurder van Oudtshoorn, lt Godfrey May (52), is Saterdag oorlede toe hy sowat ’n kilometer voor die eindstreep van die Kango Marathon ’n hartaanval gekry het.

May het aan die halfmarathon deelgeneem.

Lt Godfrey May tydens ’n wedloop.

Lt Godfrey May tydens ’n wedloop.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het May in Noordstraat inmekaargesak. Hy is per ambulans na die Klein Karoo MediClinic geneem, maar was reeds met sy aankoms dood.

Ao Anthony Vallentyn, ’n kollega, sê hy sal May onthou as ’n fikse, gesonde man wat geliefd was in die gemeenskap.

“Sport was sy alles. Hy het aan talle marathonne – stap en draf – deelgeneem. Hy was ’n kranige rugbyspeler en was op ’n stadium bestuurder van die Bridgton Rugbyklub en het ook vir die polisierugbyklub gespeel,” vertel hy.

Volgens hom het May soms van George af na Oudtshoorn geloop om te oefen.

“Maak nie saak wanneer nie, mens het hom altyd in die aand in die strate gekry as hy oefen.”

May was ’n lid van die Weermag Atletiekklub.

May sou die week vir sy seun Ganfried (18) in Pretoria gaan kuier het. Ganfried, ’n oud-leerder en uitblinkerrugbyspeler van die Hoërskool Oudtshoorn, speel tans rugby by die Blou Bulle in Pretoria.

Me Anna May, sy vrou, sê hy was iemand wat saam met vriende, familie en kollegas ’n pad gestap het. “Hy het moeite gedoen met mense, maar was baie reguit. As hy nie van iets gehou het nie, het hy jou reguit gesê hy hou nie daarvan nie,” vertel sy.

“Hy was elke dag dieselfde.”

Hy laat sy vrou, en vier kinders, Ganfried en Annique May (15) asook Tasneem (12) en Godwin (12) Fredricks, agter.

Die begrafnis is Saterdag 09:00 by die huis en 10:00 vanuit die Bridgton VGK-kerk.

Comments are closed.

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX