info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089
Facebook Besoek ons op facebook

Blinde toeriste kom derde keer kuier

Deur Liesel le Roux

DIE groep blinde Duitse toeriste wat vroeër vandeesmaand sy gastehuis besoek het, het hom nederig gemaak en net weer laat besef hoeveel daar is om voor dankbaar te wees, sê mnr Len Bornman.

Bornman is die eienaar van Thabile Lodge wat tussen Oudtshoorn en De Rust geleë is.

’n Groep blinde toeriste uit Duitsland het die omgewing in Februarie besoek en onder meer dié Boa Constrictor genaamd Precious by die Kango Wildlife Ranch beter leer ken.

’n Groep blinde toeriste uit Duitsland het die omgewing in Februarie besoek en onder meer dié Boa Constrictor genaamd Precious by die Kango Wildlife Ranch beter leer ken.

Dit was reeds die derde keer dat ’n Duitse toergroep bestaande uit blinde toeriste Thabile Lodge besoek het, sê Bornman.

“Ek kry jaarliks ’n blinde groep van Duitsland wat hier vir twee aande kom tuisgaan. Dis absoluut fenominaal om te sien hoe onafhanklik hierdie persone is ondanks hul blindheid.

“In die groep wat pas hier was, was onder andere twee onderwysers en ’n gekwalifiseerde prokureur wat voltyds werk. Verlede jaar was hier ’n boer met 80 beeste wat sy kudde twee keer per dag melk met net een persoon wat hom op die plaas help! Ongelooflik!” Bornman sê drie gidse help die groep voltyds.

“Wat hulle nie met hul hande kan voel nie, word aan hulle verduidelik.

“Dis so ’n voorreg dat hierdie mense ons besonderse land met sy natuurskoon jaarliks kom besoek en om hul opgewondenheid en vreugdes te deel. Hulle het binne minute elkeen van my honde geken en ná ’n dag kom ’n mens nie eens agter dat hulle ’n gestremdheid het nie.”

Bornman sê hulle het ’n besoek aan die Cango Wildlife Ranch ook baie geniet en daar onder meer kennis gemaak met Precious, die Ranch se Boa Constrictor.

“Die Ranch het gereël dat die blinde toeriste gratis toegang kon kry en het ’n Duitse gids beskikbaar gestel wat hulle rustig op eie stoom deur alles geneem het.”

Comments are closed.

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX