Deur Liesel le Roux
LESERS het nog tot 7 Maart die geleentheid om hul gunsteling-restaurante vir vanjaar se Klein Karoo Smulpaaptoekennings (Klein Karoo Gourmand Awards) te nomineer.
Die Hoorn het reeds ’n hele aantal nominasies ontvang en aanduidings is reeds dat wedywering vir dié toekennings vanjaar baie taai gaan wees.
Restaurante vanaf Montagu tot Prins Albert sal beoordeel word vir dié toekennings wat vanjaar die tweede keer toegeken word. 20 eetplekke in die streek is verlede jaar bekroon.
Mnr Francois Ferreira, bekende glanskok wat saam met koskenner Ann Hadley die toekennings geïnisieer het, sê lesers moet veral dink aan aspekte soos die konsekwente gehalte van die kos, diens, wynlys en die atmosfeer in die restaurant. Nominasies sal tydens die eerste ronde van be-oordeling in ag geneem word.
Vanjaar se beoordeling sal tussen Maart en Oktober plaasvind. Beoordelaars is anoniem en betaal vir hul eie etes om so onafhanklikheid te behou Sms benoemings na 073 217 7089 of e-pos na nuus@hoorn.co.za.







