Oudtshoorn op sy beste
SATERDAG se Kango Marathon en Kango Halfmarathon het op verskeie gebiede van Oudtshoorn se beste aan deelnemers gebied.
Daar was ten eerste die opwinding vir deelnemers aan die marathon om hul wedloop by die ikoniese Kango Grotte in die Kango Grotte-gebou te begin.
Dan was daar die skoonheid van die roete – die Kangovallei, die berge, die Grobbelaarsrivier, die landelike omgewing en plase met wit werkershuisies lang die pad.
En daar was die mense. Geesdriftige toeskouers langs die pad, en nog meer geesdriftige weermaglede wat die waterpunte langs die pad beman en Oudtshoorn-vriendelikheid op sy beste getoon het.
Dié lede van die Infanterieskool het Vrydagnag reeds langs die pad geslaap om vroeg op hul pos te wees om nie net water en Coke uit te deel nie, maar ook met ’n glimlag en bemoedigende woorde die deelnemers aan te moedig – die hele pad tot in Noordstraat waar ’n “Almost there! Amper daar!” die moeë deelnemers ’n laaste hupstoot gegee het.
Dié weermaglede verdien voorwaar elkeen ’n klop op die skouer.
Die Kango Marathon is ’n geleentheid waarop Oudtshoorn trots kan wees. Dit bring baie besoekers hierheen en bevestig net weer Oudtshoorn se rol in die Suid- en Wes-Kaap as sport- en toerismedorp .
• Ons innige meegevoel aan die familie van lt Godfrey May wat tydens die wedloop gesterf het. Ons wens hulle baie sterkte toe.
Ma se laaste liefdesdaad
BY ’n koerant word die personeel dikwels gekonfronteer met die tragiese kant van die lewe. En ten spyte van wat mense dalk mag glo, kry ’n mens nie oor die jare ’n dikker vel nie en word pynlike en hartseer gebeure nie makliker om te hanteer nie.
Een van hierdie tragiese voorvalle is die dood van me Brünhilda de Laan van Bridgton wat saam met twee van haar kinders Maandagaand deur ’n brand in haar huis oorval is.
Terwyl De Laan ’n onvermydelike branddood in die gesig gestaar het, het sy desperaat met die hulp van omstanders daarin geslaag om haar twee kinders by ’n venster met diefwering uit te kry – ’n laaste liefdesdaad van ’n ma teenoor haar kinders.
De Laan se dood het ook haar bure en ander wat op die toneel was, erg getraumatiseer. Die wêreld is nie altyd ’n vriendelike plek nie, en gebeure soos hierdie behoort ons almal die vraag te laat vra wat ons kan doen om dit ’n beter plek te maak, ander by te staan en nie verder onmin en seerkry te saai nie.







