Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Wynkelder en Wijnhuis gaan waarskynlik eersdaags hul deure sluit met sowat 50 personeellede wie se werk in die gedrang is.
Volgens onbevestigde berigte gaan die wyngroothandelaar Edward Snell & Co ’n aandeel van 50% koop in Suid-Kaap Wingerde, aan wie die Oudtshoorn Wynkelder en die Wijnhuis behoort.
Die beoogde sluiting van die Oudtshoorn Wynkelder sal, na wat verneem word, een van die gevolge wees as die transaksie beklink word.
Mnr Riaan Marais, hoofbestuurder van Suid-Kaap Wingerde, het Dinsdag aangedui dat hy volgende week op navrae van Die Hoorn in dié verband sal reageer. Hy het nie bevestig dat die kelder gaan sluit nie, maar het wel aangedui dat daar ’n transaksie hangend is en dat samesprekings nog afgehandel moet word.
Indien die Oudtshoorn Wynkelder sluit, sal dit vir talle van sy personeellede die tweede keer in enkele jare wees dat hul werk in die gedrang is.
Heelparty van die huidige personeel het ook in 2010 by Kango Wines gewerk toe dié kelder se deure gesluit en dit gelikwideer is.
Suid-Kaap Wingerde het Kango Wines op 22 Maart 2011 oorgeneem.
Van die personeel het glo al vandeesweek ’n nuwe werk begin soek.







