Deur Liezl van Niekerk
’N JONG vrou het Maandagaand grusaam doodgebrand nadat sy daarin geslaag het om twee van haar drie kinders uit hul houthuis in Disahof, Bridgton, te red toe die huis aan die brand geslaan het. Haar derde kind was gelukkig nie in die huis nie.
Me Brünhilda de Laan (30) het haar twee dogters, Suraya (11) en Daneyale (2), deur die diefwering voor die slaapkamervenster na haar suster, me Romacha Janse (26), aangegee.

Me Romacha Janse Dinsdag saam met haar suster, me Brümhilda de Laan, se drie kinders, Daneyale (2), Randall (9) en Suraya (11) na wie sy voorlopig omsien.
“Dit was vreeslik. Ons kon net staan en toekyk hoe sy brand. Daar was niks wat ons kon doen om haar te red nie,” het ’n sigbaar geskokte Janse gesê.
Bure en omstanders was vandeesweek erg getraumatiseer deur die manier waarop De Laan gesterf het.
Volgens Janse wat saam met die res van die familie in ’n groter huis op die erf woon, het hulle almal nog die aand saam televisie gekyk. De Laan, Suraya en Daneyale het die aand omstreeks halfelf in hul houthuis agter in die erf gaan slaap. De Laan se seun, Randall (9), het by Janse agtergebly. “Terwyl ons nog televisie gekyk het, het die krag afgegaan. Dit was net voor elfuur,” vertel sy.
Volgens me Sarah Cornelius, ’n familielid, was daar reeds hemelhoë vlamme toe hulle buite kom om te probeer kyk wat die krag laat afgaan het. “Brünhilda het vir Suraya gesê om deur die venster te klim en Romacha het gehardloop om die kind deur te trek. Sy het op die kleintjie gelê om haar te beskerm. Toe die oudste deur is, het sy die kleintjie aangegee,” vertel ’n hartseer Cornelius.
Die brand het volgens aanduidings in die voorhuis begin. Omdat die veiligheidshek gesluit was, kon omstanders nie by die huis inkom om De Laan te red nie. “Die bure het aangehardloop met emmers water en tuinslange en van hulle het selfs probeer om die dakplate te lig, maar dit was alles tevergeefs. Niemand kon haar red nie,” sê Cornelius.
De Laan se verkoolde lyk is ’n paar uur later deur die Polisie in haar slaapkamer gevind. Sy is vermoedelik weens rookinaseming dood.
Kapt Bernadine Steyn, woordvoerder van die Polisie in die Suid-Kaap, sê die oorsaak van die brand word ondersoek. Die Polisie het die nag ná die brand by die huis deurgebring met ’n nuwe span wat Dinsdag om 06:00 oorgeneem het.
De Laan se man, Donovan, wat in Knysna werk, is die nag van sy vrou se dood ingelig. Hy het dadelik teruggekeer Oudtshoorn toe. Suraya, Daneyale en Randall het vandeesweek by Janse-hulle in die huis gebly.








Ek wil namens die Hendricks, Mawona-familie ons innige meegevoel betuig aan die bedroefde familie. Dit is regter hartseer om dit te beskou. En sterkte aan die familie, haar man en kinders.