info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089
Facebook Besoek ons op facebook

Twis oor bekentenis

Deur Liezl van Niekerk

RACHÉ CAMPHER (23) wat verlede jaar in verband met vir die moord op me Lilani Murphy (27) van Bridgton in hegtenis geneem is, het Donderdag in die streekhof op Oudtshoorn skuld ontken.

Campher, wat sedert Junie 2012 in aanhouding is, staan tereg op aanklagtes van moord en verkragting.

Murphy se lyk is by die huis van Campher se tannie in Springbokweg in ’n geel Volks-wagen Golf gevind.

Mnr Vaughn Shone, Campher se prokureur, het aangedui dat Campher ’n bekentenis oor die voorval gaan betwis.

Campher het die bekentenis teenoor ao William Swarts en maj David Carelse gedoen.

Volgens Shone het Campher die bekentenis onder dwang afgelê.

Die polisie het ook nie sy regte aan hom voorgehou nie, het Shone gesê.

Hy het aangevoer Campher was bang omdat die twee polisielede wat hom ondervra het, groot mans is en dat die situasie hom geïntimideerd laat voel het.

Shone het die ondersoekbeampte, ao William (Blackie) Swarts, se weergawe betwis oor die manier waarop Murphy dood is.

Swarts het gedurende Campher se aansoek om borgtog gesê Murphy is 64 keer met ’n stuk draad in die nek gesteek en met ’n tang aangerand.

Volgens Shone het die na-doodse ondersoek aangetoon verwurging het haar dood veroorsaak.

Shone sê egter die nadoodse ondersoek toon geen steekwonde nie en ook nie dat Murphy met ’n tang aangerand is nie.

“My kliënt ontken ook dat hy die laaste persoon was wat die aand van 23 Junie by haar was.

“Hulle het van ’n kuierplek af huis toe geloop. Hulle is omstreeks 06:00 uitmekaar waarna hulle na hul afsonderlike huise gegaan het,” het Shone gesê.

Swarts, wat gedurende ’n binneverhoor oor die bekentenis getuig het, het gesê Campher het die bekentenis spontaan afgelê.

Hy het onder kruisverhoor gesê dat hy Campher aangesê om stil te bly omdat alles wat hy sê in die hof teen hom gebruik kan word.

Hy het egter toegegee dat Campher se regte nie volledig aan hom voorgelees is nie.

Die binneverhoor sal bepaal of die bekentenis as getuienis voor die hof gaan dien.

Ao Bernard Weyers, die polisiebemapte wat eerste op moordtoneel was, het getuig dat hy op Sondagoggend, 24 Junie, om 09:00 na die toneel ontbied is.

“Met my aankoms het die vrou op die agterste sitplek van die motor gelê. Haar denimbroek was tot onderkant haar knieë afgetrek. Haar gesig was vol droë bloed en daar was ’n elektriese koord styf om haar nek.

“Sy is op die toneel deur ’n ambulansman dood verklaar.” Die saak is uitgestel tot 9 April.

Comments are closed.

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX