Marknavorsing
Deur Schalk le Roux
“Een van die beter dorpskoerante in Suid-Afrika.”
Dit is van die terugvoer oor Die Hoorn wat ontvang is tydens onafhanklike marknavorsing wat vroeër vanjaar vir Die Hoorn deur Farndell Consulting in opdrag van Seda (Small Enterprise Development Agency) Eden gedoen is.
Die marknavorsing is gedoen om vas te stel hoe lesers en adverteerders oor die koerant voel. Ons het ook terugvoer gevra oor waar die koerant se sterk én swak punte lê.
Hoewel die terugvoer meestal baie goed was, was daar ook rigtingwyers oor hoe ons Die Hoorn ’n nog beter produk vir ons lesers en adverteerders, wat albei vir ons van groot belang is, kan maak.
Op die vraag “Waarvan hou u die minste van die koerant?” het ons baie insiggewende terugvoer gekry. Dit was uit dié terugvoer duidelik dat baie van ons lesers nie hou van die soms te veel negatiewe briewe en polemiek waarin persoonlike aanvalle geloods word nie; ook nie dat die koerant deur sommige gebruik word vir politieke en munisipale binnegevegte en om hul eie agendas te bevorder nie.
Dit is ’n kwessie waaraan ons reeds aandag begin gee het. Ons nooi lesers egter om hul mening oor hierdie onderwerp aan ons te rig, hetsy per brief of per sms.
Dit is nie dat ons meen die koerant het nie ’n rol om te speel in die blootstelling van ongerymdhede by onder meer openbare instellings soos die plaaslike munisipaliteit nie. Ons hét ’n rol om te speel. Maar ons wil nie net “hekse jag”, afbreek, beskuldig en slegsê nie. Ons sal graag ook konstruktiewe bydraes wil lewer.
In hul terugvoer sê lesers waarvan hulle die meeste in Die Hoorn hou, is die koerant se verskeidenheid plaaslike nuus, ons lesersbriewe en van ons gereelde rubrieke.
Lesers wil graag hê Die Hoorn moet dikker wees. Ons verseker hulle ons wil dit ook graag hê en dit is ook ons strewe. Dit hou egter regstreeks verband met die hoeveelheid advertensies wat weekliks in die koerant geplaas word aangesien advertensies nuusruimte skep.
’n Bydrae wat ons lesers wel kan lewer, is om advertensies in Die Hoorn met aandag te lees en om ons adverteerders nie net te ondersteun nie, maar aan hulle terugvoer oor hul advertensies te gee. Advertensies is immers die lewensbloed van ’n koerant!
Ons gee lesers en adverteerders die versekering dat ons ons fokus op beter dienslewering sal verhoog om ’n dikker koerant aan almal te kan bied.
In die marknavorsing verskaf ons adverteerders ook waardevolle inligting oor hoe ons beter aan hul behoeftes kan voldoen en hoe ons kan help om ’n beter diens aan hulle te lewer.
Verdere kommentaar wat lesers oor Die Hoorn gelewer het, sluit in:
- “Doen asb meer opvolgstories en stories oor mense.”
- “How about some English articles as well?”
- “Hou van Sportkalender wat deur Badenhorst Slaghuis geborg word. Wat van ’n soortgelyke geborgde toerisme-kalender?”
- “Baie goeie koerant!”
- “Artikels wat elke week verskyn, is goed geskryf en goed nagevors – ongeag die onderwerp.”
- “Koop dit hoofsaaklik vir plaaslike nuus en om op die hoogte te bly van plaaslike gebeure.”
- “Briewe wat op ’n persoonlike vete uitloop, raak vervelig.”
- “Baie dankie vir ’n goeie Hoorn!”
- “Vind koerant in die algemeen interessant met lekker artikels om te lees.”







