info@hoorn.co.za
044 272 5605
SMS: 073 217 7089
Facebook Besoek ons op facebook

Weer twee bakkies gesteel

June 6th, 2013

Deur Liesel le Roux

’N INWONER van Oudtshoorn het Dinsdag sy wit Isuzu-bakkie teruggekry nadat dit die vorige nag uit sy erf in die woonbuurt Wesbank gesteel is.

Die Isuzu is een van twee bakkies wat die nag in Wesbank gesteel is.

Mnr Nico Emmerich van Wallisstraat sê sy bakkie het in sy erf voor sy motorhuis geparkeer gestaan toe dit gesteel is.

Dit is Dinsdagmiddag omstreeks 16:00 deur die Polisie in die omgewing van Arbeidsgenot in Jan van Riebeeckweg gevind terwyl hulle besig was met ’n patrollie.
Lees Verder »

Events Calendar

June 6th, 2013

Saterdag 8 Junie
• Tuishuis – teetuin en vlooimark vanaf 09:00. Kontak 044 272 0164.
• Inwoners van Oudtshoorn word gevra om die oggend te kom hand bysit by die hangbrug in Kerkstraat waar ondersteuners van die Droom vir Oudtshoorn-projek weer aan die werk is.
Lees Verder »

Flying Scotsman is klaar

June 6th, 2013

Deur Liezl van Niekerk

Mnr Cilliers Vosloo (71), ’n inwoner van Tuishuis, glimlag breed by die model van The Flying Scotsman waaraan hy twee en ’n half jaar gebou het.

Mnr Cilliers Vosloo (71), ’n inwoner van Tuishuis, glimlag breed by die model van The Flying Scotsman waaraan hy twee en ’n half jaar gebou het.

’n TREINLIEFHEBBER van Oudtshoorn, mnr Cilliers Vosloo (71), kan met reg tevrede voel. Hy het ’n model van The Flying Scotsman wat uit ongeveer 650 dele bestaan, oor ’n tydperk van twee en ’n half jaar gebou.

Binne die lokomotief is daar modelmannetjies wat die drywer en stoker voorstel. Die detail is ongelooflik fyn en van die gaatjies wat geboor moes word om alles aan mekaar te sit, is minder as ’n milimeter groot. Alles – tot die steenkool tot grafies – is by die modellokomotief ingesluit.

“Dit het baie geduld geverg, maar ek wou dit graag klaar maak,” sê ’n trotse Vosloo.
Lees Verder »

’n Opera by Klassique

June 6th, 2013

’N OPERA is vanjaar op die spyskaart by die vyfde Klein Karoo Klassique wat van 8 tot 11 Augustus op Oudtshoorn plaasvind.

Die uitvoering van Mozart se Don Giovanni in verkorte formaat beloof om een van die hoogtepunte by vanjaar se fees te wees. Die opera, wat gewoonlik 205 minute lank is, word in 75 minute opgevoer.

Die musiekregisseur van die Opera, Lisa Engelbrecht, sê die verkorte, oftewel Alla Breve-weergawe, gee aan mense wat nuut aan opera blootgestel word ’n “ligte” weergawe van dié genre.
Lees Verder »

Redakteursbrief

June 6th, 2013

Dié vroue verdien steun
WAT ’n verrykende ervaring was dit nie om verlede Donderdagmiddag saam met Oudtshoorn se Rooi Kruis-komitee te kon kuier nie. Hier was ’n klomp plaaslike vroue saamgetrek met net een doel voor oë: om ’n verskil in ander se lewens te maak.

Hoe verfrissend anders was hierdie mense se toewyding nie in vergelyking met so baie in ons samelewing wat hoofsaaklik ingestel is op selfgelding en selfverryking.

Die vroue se nederigheid en hardwerkendheid was bykans tasbaar en veral inspirerend.
Lees Verder »

Heinie baie siek

June 6th, 2013
Heinie van Straaten (4).

Heinie van Straaten (4).

HAAR kind is baie siek, sê me Liza van Straaten, ma van die kankerleiertjie Heinie van Straaten (4) van Oudtshoorn.

Volgens van Straaten het die dokter wat Heinie behandel Vrydag aan hulle verduidelik dat die breinkanker tans versprei, maar dat hulle nie weet of dié proses vinnig of stadig geskied nie.

“Die dokter het mooi gepraat en verduidelik dat Heinie ’n siek seuntjie is en die simptome wat hy tans het is alles as gevolg van die kanker. Hy word tans vir sy griepsimtome behandel en vir kopseer en gebruik ’n nebuliseerder om sy bors oop te maak.”

Sy sê Heinie moet oor twee weke vir ’n breinskandering gaan. Daar sal dan bepaal word of hy miskien ’n operasie moet ondergaan of net behandel moet word.
Lees Verder »

Water vir plaasmense

June 6th, 2013
Teenwoordiges Donderdag by die oorhandiging van een van sewe watertenks deur die munisipaliteit aan mense wat op plase in Wyk 2, Oudtshoorn, woon.

Teenwoordiges Donderdag by die oorhandiging van een van sewe watertenks deur die munisipaliteit aan mense wat op plase in Wyk 2, Oudtshoorn, woon.

SEWE watertenks is Donderdagmiddag deur die Oudtshoorn Munisipaliteit aan mense wat op plase in die Buffeldrift-omgewing woon, oorhandig.

Dié mense woon al jare lank in huisies in die gebied sonder enige water in die omgewing van hul blyplekke en sonder toiletgeriewe. Die mense – party bejaardes – moes daagliks twee tot drie kilometer loop om water in ’n kraan of ’n dam te kry. Dit het ook soms gebeur dat van die kinders siek geword het van die damwater.

Die watertenks wat nou op sewe verskillende punte opgerig is en elk 10 000 liter water kan hou, sal elke twee weke deur die munisipaliteit se watertenks hervul word. Die sewe watertenks sal water aan sowat 249 mense verskaf.
Lees Verder »

Pawiljoen met groot rugby in gebruik geneem

June 6th, 2013

DIE nuwe pawiljoen van die Bridgton Sportgronde word Saterdag (8 Junie) amptelik in gebruik geneem met ’n heeldaglange rugbytoernooi met die hoofwedstryd tussen die SWD Arende en DHL WP.

Toegang is R20 vir volwassenes en R10 vir kinders.
Lees Verder »

June 6th, 2013
Groot opwinding en ’n gees van welwillendheid het verlede Donderdag by die Oudtshoorn Besigheidskamer se netwerkaand by The Flaming Ostrich (voorheen Swiss Bistro) geheers toe opkomende entrepreneurs wat die entrepreneurskursus in April op Oudtshoorn bygewoon het, hul sertifikate van mnr Christo van der Rheede (voorlinks), uitvoerende hoof van die AHI, ontvang het.  Die kursus is deur dr Johan Louw (regs agter) in opdrag van die AHI aangebied met die ondersteuning van onder meer die besigheidskamer en die Oudtshoorn Rotariërs.

Groot opwinding en ’n gees van welwillendheid het verlede Donderdag by die Oudtshoorn Besigheidskamer se netwerkaand by The Flaming Ostrich (voorheen Swiss Bistro) geheers toe opkomende entrepreneurs wat die entrepreneurskursus in April op Oudtshoorn bygewoon het, hul sertifikate van mnr Christo van der Rheede (voorlinks), uitvoerende hoof van die AHI, ontvang het. Die kursus is deur dr Johan Louw (regs agter) in opdrag van die AHI aangebied met die ondersteuning van onder meer die besigheidskamer en die Oudtshoorn Rotariërs.

Vroue maak ’n verskil

June 6th, 2013

Deur Liesel le Roux

Lede van die Oudtshoorn Rooi Kruis-komitee by ’n groot hoeveelheid kniekomberse vir bejaardes, babaklere, kindertruitjies en mussies vir oud en jonk wat hulle gebrei het. Hulle brei deur die jaar, en die items gaan nou uitgedeel word waar nood is. Van links staan mes Lindie Stander, Wilma Diack (sekretaresse), Jean Arries (voorsitter),  Marié Nel, René Ehlers (assistent-sekretaresse), Nerina Aling, Cecile Alberts en Shirley van Jaarsveld (onder-voorsitter).

Lede van die Oudtshoorn Rooi Kruis-komitee by ’n groot hoeveelheid kniekomberse vir bejaardes, babaklere, kindertruitjies en mussies vir oud en jonk wat hulle gebrei het. Hulle brei deur die jaar, en die items gaan nou uitgedeel word waar nood is. Van links staan mes Lindie Stander, Wilma Diack (sekretaresse), Jean Arries (voorsitter), Marié Nel, René Ehlers (assistent-sekretaresse), Nerina Aling, Cecile Alberts en Shirley van Jaarsveld (onder-voorsitter).

“ONS grootste doel is om ’n verskil in mense in nood se lewens te maak,” sê me Jean Arries, voorsitter van die Oudtshoorn Rooi Kruis-komitee.

“Daar is groot ellende daarbuite. Dit gaan by ons oor omgee en wat ons vir ons naaste kan doen,” voeg sy by.

Arries en sowat 20 ander vroue vorm Oudtshoorn se Rooi Kruis-komitee – wat deur dade van liefde en ondersteuning ’n verskil maak waar mense in nood is.

Hulle besoek siekes wat niemand anders het om hulle te versorg nie of nie kos het om te eet voordat hulle hul medikasie moet neem nie, hulle staan diegene by wat alles verloor wanneer ’n huis afbrand, hulle brei dwarsdeur die jaar toegewyd sodat hulle in die winter truie, babaklere en kniekomberse kan gee vir diegene wat nie het nie.
Lees Verder »

Maria verwerf meestersgraad in opvoedkunde

June 6th, 2013

Deur Liesel le Roux

’n Hegte gesin. Me Maria Jonas van Oudtshoorn saam met haar twee kinders, Madison en Alex.

’n Hegte gesin. Me Maria Jonas van Oudtshoorn saam met haar twee kinders, Madison en Alex.

TWEE dinge van me Maria Jonas van Oudtshoorn het my deur die jare nog altyd opgeval.

Een is die besondere hegte band wat sy met haar kinders, Madison en Alex, het.

Madison het mediese tegnologie studeer en werk by Pathcare op Oudtshoorn, terwyl Alex tans B Comm Bestuurswetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch (US) studeer.

Die tweede ding wat my van haar opgeval het, is haar toewyding aan haar beroep as onderwyser. Sy is sedert 1976 aan Protea Primêr verbonde.

Toe sy vroeër vanjaar haar meestersgraad in opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, het ek eers gehoor hoeveel jare se toewyding en studie dit van haar geverg het.
Lees Verder »

Skroothekke

June 6th, 2013

Inwoners van Oudtshoorn loop die laaste tyd deur onder die diefstal van tuinhekkies vir skrootmetaal. Party hekkies word sommer helder oordag gesteel.

Volgens me Anneline Botha van Jan van Riebeeckweg (naby die skouterrein) is haar twee tuinhekkies verlede Maandag (27 Mei) gesteel.
Lees Verder »

Staat wil nou na Hoë Hof oor wet

June 6th, 2013

DIE saak teen die voormalige hoofbestuurder van Kango Wyne op Oudtshoorn, mnr Johan Brits, is verlede Woensdag in die streekhof op die dorp uitgestel na 19 Julie.

Dit het gevolg op ’n versoek van die staatsaanklaer, adv Louis van Niekerk van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging, dat die Hoë Hof moet bepaal of die Wet op Drankprodukte aan die Grondwet voldoen.
Lees Verder »

Burgemeester en speaker was swak leiers, sê Mantashe

June 6th, 2013

Deur Liezl van Niekerk

ANC-swaargewigte by ’n vergadering Dinsdagaand in Bridgton, Oudtshoorn. Van links is mnr  Gwede Mantashe (sekretaris-generaal), me Jessie Duarte (adjunk-sekretaris-generaal) en mnr Marius Fransman (Wes-Kaapse ANC-leier).

ANC-swaargewigte by ’n vergadering Dinsdagaand in Bridgton, Oudtshoorn. Van links is mnr Gwede Mantashe (sekretaris-generaal), me Jessie Duarte (adjunk-sekretaris-generaal) en mnr Marius Fransman (Wes-Kaapse ANC-leier).

“Die ANC het ’n klomp foute in Oudtshoorn gemaak en ons is bereid om dit reg te stel.” Dit was die woorde van mnr Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, tydens ’n vergadering Dinsdagaand in Bridgton.

Mantashe, mnr Marius Fransman (Wes-Kaapse ANC-leier) en me Jessie Duarte (adjunk-sekretaris-generaal van die ANC) het by die vergadering die party se lede belowe hulle gaan die dorp reg ruk. Hulle het hul lede verskoning gevra vir die foute wat hul raadslede binne die munisipaliteit gemaak het.

Mantashe het gesê dat Duarte het Oudtshoorn die afgelope paar maande vier keer besoek het, en dat swak leierskap die ANC se grootste probleem is.
Lees Verder »

Nuwe roete bekendgestel

June 6th, 2013

DIE roete van die 2013 Bridge Cape Pioneer Trek, wat van 20 tot 27 Oktober vanjaar in die Klein Karoo en omringende gebiede plaasvind, is Dinsdagaand tydens ’n onthaal in Kaapstad bekend gestel.

Die Pioneer Trek, wat vanjaar die vyfde keer plaasvind, is een van enkele weeklange bergfietsrenne in die wêreld, en lok nie net top-Suid-Afrikaanse bergfietsryers nie, maar ook van die beste internasionale ryers.

Volgens Henco Rademeyer van Dryland Event Management wat die fietsren organiseer en aanbied, pas hulle die roete elke jaar aan om te verseker dat daar altyd nuwe uitdagings vir die deelnemers is.
Lees Verder »

Afrigters leer by oud-Springbok

June 6th, 2013
’n Rugby-afrigtingskursus wat deur 78 afrigters van die Karoostreek, skole en klubs het Vrydagmiddag en -aand ’n rugbyafrigtingskursus by Langenhoven Gimnasium bygewoon. Onder diegene wat daar was, is (van links) mnre Rynhard van As, spanbestuurder van die SWD Arende, Hennie Baartman, president van SWD Rugby, Bevan Fortuin, oud-Springbokrugbyspeler en nuwe afrigter van die Arende, Rassie Erasmus, oud-Springbok en oud-afrigter van die Cheetahs en die Stormers, Tian Stemmet, sportorganiseerder van Langenhoven Gimnasium, en Abrie de Swardt van die SWD Sportakademie.

’n Rugby-afrigtingskursus wat deur 78 afrigters van die Karoostreek, skole en klubs het Vrydagmiddag en -aand ’n rugbyafrigtingskursus by Langenhoven Gimnasium bygewoon. Onder diegene wat daar was, is (van links) mnre Rynhard van As, spanbestuurder van die SWD Arende, Hennie Baartman, president van SWD Rugby, Bevan Fortuin, oud-Springbokrugbyspeler en nuwe afrigter van die Arende, Rassie Erasmus, oud-Springbok en oud-afrigter van die Cheetahs en die Stormers, Tian Stemmet, sportorganiseerder van Langenhoven Gimnasium, en Abrie de Swardt van die SWD Sportakademie.

DIE tegniese rugbyafrigtingswerkswinkel wat Vrydagaand by Langenhoven Gimnasium onder die vaandel van die rugby-ontwikkelingsdepartement van SWD Rugby aan 78 afrigters van die Karoostreek, skole en klubs aangebied is, was baie insiggewend en ’n reusesukses, sê mnr Hennie Baartman, president van SWD Rugby.

Hy sê terugvoer wat hy van die afrigters ná die werkswinkel ontvang het, was baie positief. “Hulle het gesê dit was uitstekend en hulle glo dit sal beslis ’n hupstoot vir rugby in die streek beteken,” het hy gesê.

Tydens die werkswinkel het mnr Abrie de Swardt ’n aanbieding gedoen oor die filosofie van die rugby-afrigter en spoed in rugbyafrigting.

Me Mariette le Roux, ’n sportsielkundige, het oor die geestelike vaardighede van die rugbyspeler gepraat en Tian Stemmet oor die selektering van individue vir die span, en spankeuses van die keurders.
Lees Verder »

Bridgton wys staal

June 6th, 2013

DIE eerstespanne van Bridgton Rugbyklub en Evergreens van George het Saterdag in ’n SWD-Premierliga-wedstryd op die Rec op Oudtshoorn met 30-30 gelykop gespeel.

Die rustydtelling was 17-16 in die guns van Evergreens, verlede jaar se SWD-Premierligakampioenspan.
Lees Verder »

Vier voltooi Comrades

June 6th, 2013

VIER atlete van Oudtshoorn het Sondag die Comrades Marathon tussen Durban en Pietermaritzburg voltooi.

Hulle is Jassem Jafta en Ruweida du Preez van die RWFL-atletiekklub, albei in ’n tyd van 10:42:48, Herman Kruger van die Oudtshoorn Atletiekklub in ’n tyd van 11:05:12, en Leon van der Merwe van Hartenbos Drawwers in ’n tyd van 11:17:29.

Vyf raadslede van die Groter Oudtshoorn bedank uit die ANC

May 31st, 2013

VYF raadslede van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het na vanoggend se raadsvergadering uit die ANC bedank. Hulle het daarna by die DA aangesluit.

Die vyf raadslede is mnre Pieter Luiters (voorsitter gemeenskapsdienste en hoofsweep van die ANC), Jurie Harmse (voorsitter strategiese dienste), Hendrik Ruiters (voorsitter tegniese dienste), Jeremy Goliath en Hendrik Botha (voorsitter finansies).

Tydens ’n mediakonferensie vanmiddag in die Pearl of Oudtshoorn Hotel het die Wes-Kaapse minister van gesondheid, mnr Theuns Botha, gesê die vyf raadslede het die DA genader. “Hulle het swak dienslewering, wanbestuur en wanadministrasie deur die ANC-beheerde Oudtshoorn Munisipaliteit genoem as die hoofredes hoekom hulle wil bedank. Hulle het ook hul frustrasie uitgespreek met die voortslepende binnegevegte binne die ANC se streekstrukture.”

Met hul bedanking uit die ANC is daar nou vyf vakatures in die Raad. Luiters en Botha, wat proporsioneel aangewysde ANC-raadslede was, sal deur die party met twee ander ANC-raadslede vervang word. In die ander drie raadslede, wat verkose wyksraadslede was, se wyke sal eersdaags tussenverkiesings gehou word. Dié drie, Harmse (Wyk 13), Ruiters (Wyk 5) en Goliath (Wyk 6), sal as DA-kandidate in die tussenverkiesing staan. Al drie die wyke is in Bridgton.

Die vyf raadslede het by die perskonferensie gesê hulle is bereid om hul poste as raadslede en hul inkomste op te offer sodat daar ’n einde aan korrupsie en ongemagtigde aanstellings by die munisipaliteit kan kom.

Luiters het ’n beroep op alle politieke splintergroepe gedoen om saam met hulle by die DA aan te sluit. “Ons moet saam werk vir ’n beter lewe vir almal,” het hy gesê.

May 31st, 2013
Mnr Wessie van der Westhuizen van die DA aan die woord tydens vanoggend (31 Mei 2013) se munisipale raadsvergadering op Oudtshoorn waartydens vyf lede van die ANC hulle by die DA geskaar het.

Mnr Wessie van der Westhuizen van die DA aan die woord tydens vanoggend (31 Mei 2013) se munisipale raadsvergadering op Oudtshoorn waartydens vyf lede van die ANC hulle by die DA geskaar het.

Copyright ©   ::  DIE HOORN  •  Site by:  WebWorX